NMU-verkragtings: Man in hof

Die Suid-kampus van die NMU. Foto: NMU.

Die 29-jarige man wat daarvan beskuldig word dat hy twee studente van die Nelson Mandela-Universiteit aangeval en verkrag het, het Maandag weer in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn.

Die saak teen hom is uitgestel sodat die direkteur van openbare vervolging (DOV) in die Oos-Kaap kan besluit in watter hof die aangeleentheid aangehoor moet word. Die man, wie se naam nie genoem mag word tot hy gepleit het nie, was in wit geklee.

Die verdagte het tydens sy vorige hofverskyning gemeld dat hy van plan is om skuldig te pleit op die aanklagte. Dit het verder aan die lig gekom dat hy voorheen skuldig bevind is aan roof met verswarende omstandighede.

Hy staan tans tereg op twee aanklagte van verkragting, roof en huisbraak.

Maroela Media het vroeër berig ʼn 25-jarige student en haar vriendin is Maandagaand 2 Oktober in die rekenaarsentrum van die universiteit se Tweede Laan-kampus aangeval. Die studente is met ’n skêr gedreig en van hul selfone en beursies beroof. Daar is aanvanklik berig dat net een van die studente verkrag is, maar dit het intussen aan die lig gekom dat albei verkrag is. Een van die studente is ook met die skêr gesteek.

Die vreesbevange vroue is toe gedwing om ʼn rekenaarboks en skerm na buite te dra. Die aanvaller het die vroue gedwing om vir hom die gesteelde goedere oor die heining aan te gee voordat hy gevlug het.

Foto’s van die verdagte is op sosiale media rondgestuur. Hy het ʼn oranje hemp, hoed en handskoene aangehad volgens die foto wat ʼn skermgreep blyk te wees van kringtelevisiebeeldmateriaal.

Die verdagte is vasgetrek toe hy glo die rekenaar wat tydens die voorval gesteel is, probeer verkoop het. Een van die studente se selfone is glo ook in sy besit gevind.

Die verdagte sal in aanhouding bly tot 16 Oktober.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andreas Meyer ·

Hoekom nie meer details oor die (nog) verdagte persoon gee nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.