‘Noem My Skollie’-fliek by Pollsmoor vertoon

Gevangenes voor die een van die vertonings van "Noem my Skollie" by Pollsmoor- maksimum-gevangenis (Foto: Lindsey Appolis via Starburst)

Gevangenes voor een van die vertonings van “Noem my Skollie” by Pollsmoor- maksimum-gevangenis (Foto: Lindsey Appolis via Starburst)

Die fliek, Noem My Skollie, het geskiedenis gemaak toe dit die afgelope week by Pollsmoor-gevangenis vertoon is. Dit is die eerste film wat nog ooit in hierdie maksimum-gevangenis vertoon is, voordat dit landswyd op die grootskerm vrygestel word.

Die fliek is Dinsdag, 16 Augustus, vir sowat 150 mense gewys. Die groep het bestaan uit tronkbewaarders, ’n groep van sowat 20 gevangenes van die kuns- en kultuurafdeling, ’n paar genooide gaste van Nicro (nasionale misdaadvoorkomingsorganisasie) en Kunstekaap.

Kunstekaap is tans besig met ʼn teaterprojek saam met hulle Noorse eweknieë wat gevangenes en diegene wat op parool vrygelaat is insluit, genaamd Help I am Free.

Daar is nog ’n sessie op 17 Augustus gehou, sonder die teenwoordigheid van die media en publiek, sodat dit meer van die gevangenes kon bereik. Altesaam 130 manlike en vroulike gevangenes het dié vertoning bygewoon. Die volgende dag is die fliek aan nog 130 tronkbewaarders vertoon.

Die atmosfeer was van die begin van die vertoning af gelaai en die gehoor het byna vir die hele fliek lank vasgenael bly kyk en op die punte van hulle stoele gesit. Teen die einde van die film, was daar nie ’n droë oog in die vertoonlokaal nie.

Die skrywer John Fredericks, regisseur Daryne Joshua, en vervaardiger David Max Brown het tydens die geleentheid die gehoor se vrae beantwoord. Gevangenes het kommentaar gelewer oor die egtheid van die fliek en gesê dat hulle geïnspireer is en die fliek hulle hoop gegee het vir hulle eie drome en doelwitte.

Gevangenes tydens een van die vertonings van "Noem my Skollie" by Pollsmoor- maksimum-gevangenis (Foto: Lindsey Appolis via Starburst)

Gevangenes tydens een van die vertonings van “Noem my Skollie” by Pollsmoor- maksimum-gevangenis (Foto: Lindsey Appolis via Starburst)

David Manuel, een van die hoofkarakters in die fliek wat op parool was tydens die verfilming, was ook tussen die gehoor tydens die eerste vertoning by die gevangenis. Hy was geklee in die geel uitrusting van ’n verhoorafwagtende gevangene. Hy is ’n paar maande gelede deur die polisie vasgetrek vir ’n oortreding, maar het ontken dat hy enigiets daarmee te doen gehad het. Sy saak het vroeër in die week voorgekom en die aanklagte teen hom is teruggetrek. Wanneer hy dus die fliek weer sien, sal hy ’n vry man en volwaardige akteur, met ’n hoofrol in ’n nuwe plaaslike film, wees.

Die vertoning is moontlik gemaak met behulp van finansiële bystand deur die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF) en is ondersteun deur Ster-Kinekor, Nicro en die vertoningsmaatskappy AV-Direct, wat elkeen van die drie dae laat voel het soos ’n regte teater-uitstappie. Wisaal Abrahams, projekbestuurder, het met Nicro en Pollsmoor geskakel en alles moontlik gemaak.

Die film speel af op die Kaapse Vlakte en in Pollsmoor-gevangenis en is gebaseer op die lewe van draaiboekskrywer John W. Fredericks.

Skermskoot uit die fliek, "Noem my Skollie" (Foto via Starburst)

Skermskoot uit die fliek, “Noem my Skollie” (Foto via Starburst)

Noem My Skollie is ’n grootskerm-rolprentervaring wat kykers sal meevoer na ’n wêreld op die Vlakte wat nog nooit op só ’n outentieke manier uitgebeeld is nie. Dit is deurlopend onderhoudend en vermaaklik en lewer ’n geweldige sterk emosionele impak. Die fliek dra die temas van vriendskap, verraad, vergifnis, aanvaarding, die behoefte aan ’n beter lewe, hoop en liefde oor.

Die titel van die film sinspeel op die ou gesegde dat ’n mens niemand op hulle voorkoms moet oordeel nie en bevorder die opvatting dat elkeen ’n talent het, selfs al is dit somtyds moeilik om te vind en is daar moontlik ʼn prys daaraan gekoppel.

Noem My Skollie is vervaardig deur David Max Brown en Moshidi Motshegwa (Maxi-D Productions) in samewerking met M-Net, kykNET, die NFVF en die departement van handel en nywerheid. Dit word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.

Die fliek se première vind op 24 Augustus om 20:00 by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai plaas.

Meer inligting oor die fliek: Facebook, Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Ouderdomsbeperking?
Ek is maar lui vir flieks maar reken dat ek met hierdie een gaan moeite doen.
Geluk en dank ook aan die instansies wat die verfilming kon laat plaasvind.

Wat-ek-lees ·

Dis egter jammer dat ‘gebaseer’ op die voorblad van die video verkeerd gespel is.

Sum ·

@”gebassseer”- Ek dink dis ‘n redelike aanduiding van watter kwaliteit die film is, sowel as die mense wat daarby betrokke is en die kwaliteit mense wat daarin speel… “Criminal lives matter”… Wetsgehoorsame mense, nie. Die’ tipe films wil misdaad romantiseer en uitwys hoe sleg en veroordelend wetsgehoorsame burgers is, teenoor die benadeelde agtergeblewes, terwyl dit natuurlik ook onderlings misdaad promofeer, veral in ‘n kommunisties liberale land soos sa- (met klein letters).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.