Nog 100 jaar om Limpopo-paaie te teer

Deur: Ezekiel Kekana, GroundUp

Foto ter illustrasie. (Foto: Ryan Riggins/Unsplash)

Dit sal rofweg 115 jaar duur en R138 miljard kos vir al die grondpaaie in Limpopo om geteer te word. Só het die padagentskap van Limpopo (RAL) in sy prestasieplan vir die vorige boekjaar gesê.

Dié plan is Maart verlede jaar in die provinsiale wetgewer ingedien en hiervolgens is die huidige finansiering nie voldoende om al die provinsie se grondpaaie te teer nie. Slegs ʼn derde (6 200 km) van Limpopo se paaie is reeds geteer.

Die agentskap sê hy wil in die volgende twee jaar 27% (3 700km) van die grondpaaie teer, wat R37 miljard sal kos. Die begroting vir die opgradering van paaie vir die volgende twee jaar is egter net R1,27 miljard. Baie mense dwars oor die provisie wag ook al meer as 25 jaar vir paaie om geteer te word.

Luidens die RAL se dokument sal R2,8 miljard nodig wees om 289 km se onvoltooide paaie in die volgende twee jaar te teer, R3,9 miljard om paaie wat geklassifiseer is as “geprioritiseerde politieke verpligtinge” te teer en R10 miljard om meer as 1 000 km se paaie in sogenaamde brandpunt-gebiede te teer.

Van dié paaie is in so ʼn gehawende toestand, met slaggate en power dreinering, dat inwoners van ander paaie gebruik moet maak om by hul bestemming te kom. Die RAL sê die Capricorn-distrik (van Polokwane tot by Alldays) sal geprioritiseer word, aangesien paaie hier veral afgeskeep is wanneer dit by instandhouding kom.

“Dit is nou al meer as twee dekades wat ons beloof word die pad sal binnekort geteer word,” het Tefo Nthlane, ʼn inwoner van ʼn nedersetting buite Mokopane, aan GroundUp gesê. “Ons kry ook geen terugvoer oor hoekom dit so lank vat nie.”

Swak paaie maak dit ook vir kinders moeilik om by die skool te kom en sommige leerders hou eenvoudig op om skool toe te gaan in die somer, wanneer die paaie weens reën verspoel.

Hierdie artikel is ʼn verkorte weergawe van ʼn berig wat oorspronklik op GroundUp verskyn het. Vir die volledige berig, klik hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nie Verbaas ·

Oor n 100 jaar sal daar nie meer teerpaaie wees of finansies om dit te doen onder die ANC regering nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.