Nog 15 vas oor Fort Hare-moordsaak

(Foto: Facebook/Fort Hare University)

Nog 15 mense is aangekeer in verband met die sake van moord en poging tot moord by die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap. ʼn Nasionale taakspan is spesifiek aangewys om die voorvalle te ondersoek.

Altesame 25 verdagtes is tot dusver aangekeer.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê die jongste inhegtenisnemings is oor die Paasnaweek in Gauteng, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal gedoen. Hulle staan tereg op aanklagte wat insluit bedrog, korrupsie, ontvoering, moord en poging tot moord en sal na verwagting Dinsdag in die Dimbaza-landdroshof verskyn.

Luidens berigte is verskeie senior personeellede van die universiteit onder diegene wat aangekeer is.

Die ondersoek hou onder meer verband met die moord op prof. Sakhela Buhlungu se lyfwag, Mboneli Vesele, in Januarie verlede jaar. Vesele is in ʼn koeëlreën dood toe aanvallers op die visekanselier se voertuig losgebrand het. Buhlungu was nie in daardie stadium in die voertuig nie en is na ʼn plek van veiligheid geneem.

Vesele se dood het gevolg op die sluipmoord op Petrus Roets, die universiteit se vlootbestuurder. Roets is in Mei 2022 vermoor.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiehoof, sê die taakspan sal na dié deurbraak hul ondersoek volhou.

“Die span het hard gewerk om te bepaal wie verantwoordelik vir die bedrog, korrupsie en moorde by die universiteit is. Hulle gaan voort met die ondersoek en bly soek na diegene wat enige betrokkenheid by enige wandade gehad het,” sê Masemola.

“Ons konsentreer daarop om ʼn waterdigte saak aan die hof voor te lê wat al die bewyse wat die span ingesamel het, bevat.”

Masemola en Bheki Cele, minister van polisie, sal die hofverrigtinge na verwagting Dinsdag bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.