Nóg 2 vas ná Cullinan-plaasaanval

Lt.kol. Maqhawe Simon Dhladhla, stasiebevelvoerder van die Cullinan-polisie. Foto: Verskaf

Nóg twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met ʼn onlangse aanval op ʼn plaas in die Cullinan-omgewing, oos van Pretoria.

Konst. Connie Mogandi, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die aanval waarmee die mans vermoedelik verbind kan word, het in November vanjaar plaasgevind toe ʼn plaaseienaar en sy werkers aangeval en beroof is.

“Die boer se veiligheidswagte en werkers is by die hoofhek vasgebind terwyl die verdagtes onder meer gereedskap en ʼn kragopwekker in ʼn waentjie gelaai het,” het Mogandi gesê.

“Die boer het in ʼn stadium na die hek gery om sy werkers te besoek toe hy op die verdagtes afgekom het. Een van die aanvallers het hom met die kolf van ʼn pistool oor die kop geslaan.”

Die boer kon daarin slaag om in sy bakkie te vlug en hulp te ontbied. Die verdagtes het van die toneel gevlug. Die gesteelde goedere is teruggevind.

Die Cullinan-polisie het ʼn saak van huisroof aanhangig gemaak vir verdere ondersoek.

“Ná ʼn volgehoue ondersoek is ʼn 24-jarige man Sondag teen 19:00 in die omgewing vasgetrek. Dit het tot die inhegtenisneming van nóg twee verdagtes Dinsdag in die vroeë oggendure gelei.”

Die verdagtes moet binnekort in die hof verskyn.

Lt.kol. Maqhawe Simon Dhladhla, stasiebevelvoerder van die Cullinan-polisie, het sy dank teenoor die toegewyde polisiebeamptes betuig wat uit hul pad gaan om die veiligheid van plaasbewoners te verseker. “Daar was ʼn tyd toe plaasaanvalle druk op ons geplaas het. Tog het ons nie hoop verloor nie en het ons alles in ons vermoë gedoen om ons inwoners te beskerm. Ons kan met trots sê dat die situasie deesdae beter lyk in Cullinan,” het Dhladhla gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Smp ·

Mag al die Suid Afrikanse polisiestasies kennis neem en hulle voordeel volg. Die sluit daai polisie man in wat op sy stole gesit en vluit het toe n Boer n klag wou indien…

Adri ·

Kom ons hoop die plaasaanvallers bind altyd die plaaswerkers vas voordat hulle die boere aanval. Dan word die aanvallers gou gevind!

cassie ·

Hoera vir die torgewyde polisiemanne van Cullinan.Hoekom word net ‘n saak van huisroof ondersoek. Volgens die berig is die boer oor die kop geslaan met die kolf gedeelte van die pistool.Is die vuurwapen gelisensieerd want dan is dit in besit van ongelisensieerde vuurwapen en besit van onwettige ammunisie.Dit gaan ‘n rol speel by vonnisoplegging

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.