Nóg 2 vas ná moord op polisieman

Argieffoto (Foto: SAPD, Facebook)

Nóg twee mans is in hegtenis geneem in verband met die aanval op twee polisiebeamptes oor die naweek in Orkney in Noordwes. Een van die polisiebeamptes is in die aanval doodgeskiet.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, sê twee verdagtes is Maandagaand in Soweto in hegtenis geneem. Die verdagtes is onderskeidelik 37 en 29 jaar oud.

Volgens Naidoo is een van die verdagtes in hegtenis geneem vir die besit van ’n 9 mm-pistool waarvan die reeksnommer afgevyl is. Dié vuurwapen behoort vermoedelik aan sers. Lloyd Poonyane wat in die voorval omgekom het.

Altesaam vier verdagtes is vandeesweek in verband met die moord op Poonyane in hegtenis geneem. Dit het intussen ook aan die lig gekom dat al vier die verdagtes familie van mekaar is.

Maroela Media het vroeër berig Poonyane (41) en sers. Lydia Tladi (45) was Saterdagaand in die Vierfontein-omgewing toe hulle ʼn Ford Bantam-bakkie met twee verdagte insittendes gewaar het. Hulle het die bakkie tot in Orkney agtervolg.

Volgens Naidoo het die twee beamptes uit hul polisievoertuig geklim en die bakkie genader nadat dit by ʼn stopstraat stilgehou het. Die insittendes van die bakkie het ook uitgeklim en glo geweier dat die beamptes die bakkie deursoek.

Volgens Naidoo het dit tot ʼn argument gelei. “Die verdagtes het hierna op die twee beamptes losgebrand. Sers. Poonyane is dood nadat hy in die bors geskiet is, terwyl sers. Tladi in die been geskiet en gewond is.”

Die verdagtes het hierna met die beamptes se dienspistole en ammunisie op die vlug geslaan.

Die verdagtes sal na verwagting later vandeesweek in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Porseleintjie ·

Voorvalle soos dié is eie aan Suid- Afrika. Verbasend dat dit nog die nuus haal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.