Nog 25 000 soldate ontplooi terwyl vrees oor voedselsekerheid toeneem

Soldate gedurende die onluste in Gauteng. (Foto: GCIS)

Nog 25 000 soldate van die weermag gaan moontlik in KwaZulu-Natal en Gauteng ontplooi word in ’n poging om die voortslepende plundertogte in dié provinsies te stuit.

Alle lede van die reserwemag is intussen aangesê om Donderdag vroegoggend vir diens aan te meld.

Dít terwyl aanbeveel word dat vragmotors en winkeleienaars volgende beskerm word om te verseker dat vars produkte weer op die winkelrakke beskikbaar is.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het Woensdag gedurende ’n vergadering van die gesamentlike staande komitee oor verdediging gesê sy sal die voorstel van nog soldate vir goedkeuring by die nasionale veiligheidsraad en pres. Cyril Ramaphosa indien.

Die komitee het ʼn beduidende toename in die ontplooiing van soldate versoek in ’n poging om die situasie in KwaZulu-Natal en Gauteng in bedwang te bring.

Ook Ramaphosa het glo vroeër vandeesweek aangedui dat nog soldate op die grond benodig word. Die president het egter voorgestel dat nog 10 000 soldate opgeroep word.

Die VF Plus het gister tydens ’n vergadering tussen die president en politieke leiers voorgestel dat selfs tot 75 000 soldate weer ontplooi word soos verlede jaar gedoen is om die aanvanklike afsonderingsregulasies af te dwing.

Kobus Marais, ʼn DA-LP en die party se woordvoerder oor verdediging, meen die ontplooiing van só ’n groot aantal weermaglede is in dié geval “verregaande” aangesien dit sal beteken dat die totale mag van die departement van verdediging en die weermag opgeroep sal moet word.

Die DA het voorgestel dat tussen 10 000 en 20 000 soldate, onder wie lede van die weermag sowel as die reserwemag, opgeroep kan word. Die opposisieparty verwelkom dus die voorstel van nog 25 000 soldate.

Soldate gedurende die onluste in Gauteng. (Foto: GCIS)

Marais het Donderdagoggend aan Maroela Media gesê dit word al dae lank gesê dat die aanvanklike ontplooiing van 2 500 soldate hopeloos te min was. Hy het ook daarop gewys dat dié soldate nie eers almal in KwaZulu-Natal en Gauteng ontplooi is nie, maar ook elders in die land om die situasie te monitor.

Volgens Marais beteken dit dat daar maar sowat 600 soldate na KwaZulu-Natal gestuur is om die polisie gedurende die grootskaalse plundery by te staan.

Die soldate werk ook in skofte, wat beteken dat tussen 250 en 280 soldate per skof in KwaZulu-Natal op die grond was om die strooptogte te stuit.

“Dit is absoluut verregaande,” meen Marais.

Hy sê daar is die afgelope paar dae heelwat beraadslaag. Hoewel kommer altyd heers oor die bykomende koste verbonde aan die ontplooiing van nog soldate, het die minister volgens Marais ’n boodskap van die president oorgedra dat voorsiening daarvoor gemaak sal word.

“Ons weet dat dit wat in KwaZulu-Natal en Gauteng plaasvind absoluut uniek is en die ergste is wat ons nog in ons demokrasie beleef het. Dit is ook ongetwyfeld so dat die inbeweeg van meer soldate ’n positiewe uitwerking [op die plundery] gehad het.”

Volgens Marais word nog soldate veral benodig om die landelike ekonomie te beskerm. Dit sluit in die beskerming van hoofroetes en, indien nodig, selfs die begeleiding van vragmotors wat melk, vleis en ander vars produkte vervoer. “Want onthou, daar is nou niks op die winkelrakke nie.

“Jy moet nou sorg dat daar kos kom en dat die boere bygestaan word.”

Hy vestig ook die aandag daarop dat onder meer lughawens, hawens en regeringsgeboue ook teen plunderaars beskerm moet word.

John Steenhuisen, leier van die DA, het vanoggend op sy beurt ook gesê die “volgende groot krisis” is die bedreiging van voedselsekerheid in KwaZulu-Natal saam met die verskaffing van medikasie en brandstof”.

“Die beskerming van die voorsieningskettings moet prioriteit met die ontplooiing van die weermag geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Werner ·

En dit is nou net hier waar die minister hopenlik gaan agterkom dat hulle nie 25000 soldate het nie

Juls ·

ja, sommige mense koop trollies vol en los niks vir ander nie

Gerhard ·

Daar is verseker n faktor van “panic buying” in minder geaffekteerde areas. Dis eintlik baie selfsugtig as mense hul trollies vol prop en niks vir die res los nie.
In die KZN area is daar verseker n probleem. OP N24 is daar fotos van laaaaaaang toue mense wat probeer kos koop. Dis nie n mooi prentjie nie.

Jaco ·

Nou word die plundery weer gestop. Wat dan nou van radikale ekonomiese transformasie “for our people in our lifetime”?

gatgogga ·

Onthou, die RET-faksie van die ANC is van nou af sinoniem met kriminaliteit. Dit is die RET-faksie, onder sy leiers Zuma, Niehaus, Magashule en ander rampokkers wat hierdie hele chaos ontketen het. Moenie dat hulle dit ooit vergeet nie. Koppel misdaad met die RET-faksie by elke geleentheid.

Elinette ·

En hoekom is die EFF so …………………………………….. DOODSTIL???????????????? Dalk besig op voetsoolvlak????????????????

Pieter ·

Ag asb hoe lekker lag ek nou julle mask mens siek met al julle stories

Anel ·

Hulle het nie ‘n idee wat om te doen nie. Nou moet daar eers ‘n aansoek ingedien word by een of ander bevelsraad. Dan wonder hulle vir paar weke of dit nou regtig nodig is. In 1984 net voor ons verlowing is my man weg. Hy het net verdwyn. So het gedink. Daar was nie selfone nie. Toe ek begin navraag doen is hulle ontplooi in Soweto, weer onluste, ek dink omdat die peyrolprys met 1 sent gestyg het. Dit het nie weke gevat om te besluit nie. Die wat gewerk het is net gesê om Kaspir te klim. Daar was nie tyd vir klere pak of om geliefdes te laat weet nie. Selfde in 1989 in Humansdorp. Gelukkig het ons saam gewerk. Maar net so vinnig is die mense van hier af soontoe gevlieg. Hoekom kan dit nie nou meer gedoen word nie? Maar nou ja, dit was polisie en hindemanne. En ek het nog nie een hond gesien nie.

Elinette ·

Ja, maar dit was in die OU SA, toe alles nog gewerk het.

Elinette ·

En, wil jy nou regtig arme HONDE instuur onder daai massas? Dink net wat gaan met die arme honde gebeur, want daai goed het geen redenasie-vermoë nie.

Stephanus ·

Sjoe! Ons regering weet darem maar net hoe! om VREDE vir die land te bewerk.
Sterkte!
Hou net so pateties aan om die land ten gronde te bring.

Ben ·

Ek wonder of die Marais ou dalk al ooit ñ besigheid of winkel gehad het.
Daai klomp “soldate” sit in elkgeval en niks doen. Hoekom is dit nou verregaande. Met die “lockdown” kon hulle die hele land vol wees. Wat is die verskil.

annie ·

En waar was die reserwemag al die tyd weggesteek en deur wie opgelei? Is dit gewone werkloses wat sommer vanaf die straat opgeraap en gou gewys word waar die starter van die geweer is of word mense uit hul werkplekke opgekommandeer; dalk stokou impi’s wat eers brille moet laat maak om beter te kan sien my kind. Indien dit MK’s is, is Zuma binnekort weer ons prez. En is hierdie dalk ook ‘n oefenlopie vir aksies teen boere tydens die stil van die komende groot honger.

Danie ·

Pieter Groenewald van VF+ se se so en Marais van DA se dit en John Steenhuisen se dat. Wanneer se julle vir ons wat vir julle gestem het, mense hier is ons plan van aksie, ons moet nou saamstaan. Nee lyk my julle is eerder raadgewers vir n party wat nie eens weet hoe om n land te lei mie en vergeet wie vir julle gestem het en vir wie julle n plan moet he om te beskerm. En moet nou asb nie weer kommentaar lewer omdat ek nie die ou aanspreek as dr nie. Sy ouers het hom gedoop by sy naam nie as dr so en so nie dit is n titel wat agterna gekom het.

VaalDonkie ·

Die fight is al klaar verby dan wil hulle eers mobiliseer. Los maar eerder.

Francois ·

Hoe gaan die pas gepubliseerde regulasie wat die vervoer en berging van brandstof in enige “houer” anders as ‘n voertuig gebruikers en produsente affekteer? Sou dit beteken dat ons nie dieseltenks kan volmaak wat gebruik word om generators ens. vol te maak nie? Baie boere het ook brandstof tenks op hul plase om werksvoertuie vol te maak.

Enigste ligpunt is dat ek ‘n verskoning het om nie gras by die huis te sny nie want ek kan nie my kannetjie vol petrol gaan maak nie.

https://www.dmr.gov.za/news-room/post/1921

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.