Nóg 5 vas ná Brits-betoging weer opvlam

Die polisie op die toneel. (Foto: ANA)

Vyf mense is Dinsdag in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld nadat die geweldadige betoging buite Brits in die Noordwes deur die loop van die oggend weer opgevlam het.

Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê betogers het vanoggend die polisie met klippe bestook en buitebande aan die brand gesteek om paaie na die Oukasie-nedersetting buite die dorp te versper. Dít nadat dit vanoggend aanvanklik gelyk het of die situasie onder bedwang gebring was.

Maroela Media het vroeër berig dié paaie is vroeg vanoggend oopgestel vir gebruik en orde is binne die dorp herstel nadat talle betogers Maandag vanaf Oukasie na die munisipale kantore in die dorp opgeruk het. Hulle dring aan op beter dienslewering.  ʼn Totaal van 45 betogers is gister in hegtenis geneem vir openbare geweld en sal Donderdag in die Brits-landdroshof verskyn.

Myburgh verduidelik dat betogers intussen weer begin betoog het nadat hulle op 4 April ʼn memorandum van griewe aan die plaaslike munisipaliteit oorhandig het. Die premier is sewe dae gegee om op die memorandum te reageer anders sou hulle tot gewelddadige betoging oorgaan.

“Die situasie is maar baie gespanne,” het Myburgh verduidelik. “Daar is wel ʼn groot aantal polisiebeamptes wat besig is om die in- en uitgange te kontroleer om te keer dat die betogers in die dorp ingaan.”

ʼn Sekuriteitswag is gedurende vanoggend se betoging beseer.

Volgens Myburgh is brandende buitebande te midde van die chaos uit die pad geskuif en tans vloei die verkeer in die gebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

? leser ·

polisie jul mors jul tyd en ons geld, oproermakers word in tronk aangehou, kom hof toe en hof laat hulle gaan en die proses begin weer van vooraf, mors net meer van ONS geld

JG ·

Dit is tyd om vuur met vuur te beveg…hiedie fluweelhandskoentjie-vattery is n grap.

ZAR ·

Wat van die GPF lede wie se huise geteiken word met petrolbomme?
Die volle waarheid word nie deurgegee nie!

#CP ·

Ons bly om die draai van Oukasie en die situasie was alles behalwe onder beheer! Ons vrees vir ons lewens!

willem botha ·

Die werklike feite en inligting is nie korrek die betogers betoog oor hoë profiel polisie persone saam met die dwelmbase werk .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.