Nóg 50 000 mense onder broodlyn weens droogte

Foto: Skymetweather.com

Foto: Skymetweather.com

Die Wêreldbank het Woensdag gesê die droogte wat groot dele van Suid-Afrika in sy greep het, het ʼn verdere 50 000 mense tot onder die broodlyn gedruk.

“Ongeveer 50 000 mense is onder die nasionale armoedelyn gedruk weens hierdie droogte,” het Catriona Purfield, die bank se nasionale programdirekteur vir Suid-Afrika, aan die parlement se komitee vir finansies gesê.

Die armoedegrens word amptelik gedefinieer as ʼn inkomste van minder as R501 per maand en 36,5% van Suid-Afrika se bevolking val tans in hierdie kategorie.

Purfield het gesê die getal armes sal na verwagting aansienlik styg, nie net weens die droogte nie, maar ook as gevolg van Suid-Afrika se sukkelende ekonomiese groei. Die bank het in ʼn onlangse verslag die verwagte ekonomiese groei in die bruto binnelandse produk (BBP) aansienlik aangepas na 0,8% vir 2016 en 1,1% in 2017.

Purfield het bygevoeg dat die ekonomiese impak in Mpumalanga, een van die provinsies wat as ʼn nasionale rampgebied verklaar is, nog meer vererger is deur massiewe werkverliese in die mynwese.

Sy het die situasie as ʼn dubbele ramp beskryf en gesê die sektor het tussen laat-2014 en vroeg-2015 reeds 43% van sy werkgeleenthede in Mpumalanga gesnoei. Daar was in die vorige vier jare ʼn effense groei in die mynbedryf in die provinsie.

Volgens Purfield sal die persentasie van die bevolking wat in absolute armoede leef na verwagting tot 37% vermeerder teen volgende jaar.

Sy het die komitee gewaarsku dat 2016 ʼn “moeilike jaar” vir die Suid-Afrikaanse ekonomie sal wees en het gesê die bank se effense hoër groei-voorspelling vir 2017 is gegrond op die hoop dat die swak rand uitvoere sal aanhelp.

Volgens Purfield sal die Suid-Afrikaanse regering verder moet kyk as die beskikbare fiskale monetêre beleidsopsies om enige momentum in ekonomiese groei te beredder. Sy het gesê om Eskom se kragvoorsieningprobleme op te los, sal klaar die groeikoers met 1% verbeter, terwyl die verwydering van hindernisse om plaaslik handel te dryf Suid-Afrika en sy buurlande in staat sal stel om by globale waardekettings in te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mr P ·

Hou op toi toi afbrand en raak ontslae van die unies. Die werkgewer kan nie al hierdie aksies absorbeer nie. Lekker vakansie hou by die huis. Nou pluk julle die vrugte.

Loon ·

Ek wil weet hoe bepaal die wêreld bank die getal van 50 000… dit kan onmoontlik nie wees nie.
Ons boer self en is self deur die droogte, net in ons omgewing en naburige dorpe sien mens die impak,
SA is groot met baie mense en nog meer onwettige inlopers wat druk op die land nog erger maak.
Slegte nuus: Julle wat die land regeer, en julle wat vir die regeerders gestem het, julle het net gekry en gevat en niks opgebou of uitgebrei nie, julle trane gaan lank wees.
Weereens n bewys dat ons huidige regeerders nie dink of beplan vir die dag van more nie.

Michael ·

Tragies,die droogte het baie hiermee te doen maar die huidige benadeelde minderheid kan nie meer pa staan vir die bevoordeelde meerderheid se onbekwaamheid nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.