Nóg 7 000 bladsye getuienis teen OB ingedien

Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer (Foto: ANA)

Die DA het Vrydag meer as 7 000 bladsye van aanvullende getuienis aan Thandi Modise, die speaker van die Nasionale Vergadering, oorhandig om hul mosie vir die verwydering van adv. Busisiwe Mkhwebane as die Openbare Beskermer te versterk.

“Met meer as 7 000 bladsye om ons mosie te ondersteun, hoop die DA dat die parlement vinnig sal optree deur ’n ad hoc-komitee aan te stel vir die verwydering van Mkhwebane,” sê Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, in ʼn verklaring.

Volgens Mazzone kom al meer inligting en erge mistastings aan die lig wat die party se oproepe om Mkhwebane uit haar pos te verwyder, ondersteun.

Maroela Media het vroeër berig Mazzone het op 3 Desember verlede jaar die substantiewe mosie om Mkhwebane van haar amp te onthef kragtens die nuwe reëls van die parlement ingedien.

Die DA voer aan Mkhwebane is onbevoeg vir haar pos, onder meer op grond van die groot aantal hofuitsprake wat verskeie van haar bevindings al ongeldig verklaar het.

“Die DA hoop dat die skandelike hoofstuk wat Mkhwebane se bewind aan die stuur van ’n eens trotse hoofstuk 9-instelling was, binnekort tot ’n einde sal kom en dat ons kan begin om ’n sterk en bekwame kantoor van die Openbare Beskermer te bou wat Suid-Afrikaners teen staatsmisbruik beskerm.

“Die DA sal nie rus totdat Suid-Afrikaners die openbare beskermer kry wat hulle verdien nie,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico ·

Ek het nuus vir die DA. Suid afrika HET die OB wat hulle verdien…..

DieKriek ·

Miskien waar, Nico, maar sy beskerm beslis nie die openbaar nie. Dalk die pos se naam verander.

Amatambo ·

Wat ‘n jammerte dat Thuli Madonsela nie weer as OB aangestel kan word nie – ek het net die hoogste respek vir daardie vrou…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.