Nog 8 vas vir Limpopo-betoging

Beskadigde skoolgeboue in Vuwani, Limpopo (Mei 2016) (Foto: ANA)

Beskadigde skoolgeboue in Vuwani, Limpopo (Mei 2016) (Foto: ANA)

Nog agt mense is in hegtenis geneem in verband met die betogings in die Vhembe-distrik in Limpopo waartydens 24 skole vandeesweek aan die brand gesteek is.

Lt.kol. Malesela Ledwaba, woordvoerder van die polisie, het gesê altesaam 23 mense is tot dusver in hegtenis geneem. Teen Saterdagmiddag was die getal skole wat deur betogers aan die brand gesteek is 24, waarvan 20 heeltemal afgebrand en vier net gedeeltelik beskadig is.

Dit was Saterdag kalm in die gebied rondom Vuwani ná die gewelddadige betogings heelweek lank gewoed het weens inwoners se ontevredenheid oor munisipale afbakening. Duisende leerders se onderrig is onbepaald onderbreek nadat hul skole saam met ʼn stamkantoor, poskantoor en talle voertuie afgebrand is.

Beskadigde skoolgeboue in Vuwani, Limpopo (Mei 2016) (Foto: ANA)

Beskadigde skoolgeboue in Vuwani, Limpopo (Mei 2016) (Foto: ANA)

Geweld in die gebied het Sondagaand opgevlam toe betogers die strate ingevaar het nadat die hooggeregshof hul aansoek om steeds onder die Makhado-munisipaliteit te val van die hand gewys het. Die inwoners het die hof genader om die besluit van die Munisipale Afbakeningsraad (MDB) dat hulle voortaan by die nuwe Malamulele-munisipaliteit ingesluit sal word op te hef.

Tradisionele leiers en ʼn Vuwani-taakspan hou vol hulle is nie vooraf ingelig oor die besluit om by die nuwe munisipaliteit ingesluit te word nie. Maggie Sotyu, adjunkminister van polisie, en David van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het Donderdag saam met David Mahlobo, minister van staatsveiligheid, die gebied besoek om die omvang van die skade te bepaal en die geweld te probeer stopsit.

Beskadigde skoolgeboue in Vuwani, Limpopo (Mei 2016) (Foto: ANA)

Beskadigde skoolgeboue in Vuwani, Limpopo (Mei 2016) (Foto: ANA)

Mahlobo het ná die besoek gesê ʼn spesialis-eenheid sal saam met die intelligensiedienste werk om vas te stel wie verantwoordelik is vir die verwoesting van eiendom tydens die betoging.

Die VhaVenda-koning, Toni Mphephu Ramabulana, het Vrydag met Makhoma Makurupetje, die LUR van menslike nedersettings, en Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, vergader oor die inwoners se ongelukkigheid.

Inwoners het egter gesê hulle sal voortgaan om te betoog tot 3 Augustus wanneer die munisipale verkiesings na verwagting sal plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eddy ·

Eers was dit apartheid wat die skole laat brand het en nou is dit ontevredenheid. Dalk was dit dalk nooit apartheid nie maar n gat in opvoeding

Frederik ·

Die staatsgeld wat nou verlore gaan om die 23 aan te kla, van staats regshulp te voorsien, die saak keer op keer uit te stel en hul dan almal op die ou einde onskuldig te bevind, kan seer sekerlik gebruik word om ten minste 5 van daai klein skooltjies te herbou.

Rina Vermeulen ·

Ai dis hartseer om te sien dat hul skole vernietig dis vir hul kinders se opvoeding.Wat gaan deur die mense se koppe wat dit doen?Die staat het nie geld nie en watter geld gaan nou vir die herbouing hiervan gebruik word wat op ander tereine gebruik kon word om lewens te verbeter!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.