Die saak teen die man wat Sondag in hegtenis geneem is vir sy beweerde betrokkenheid by die verwoestende brand wat by die parlementsgebou in Kaapstad ontstaan het, is met ’n week uitgestel.
Zandile Christmas Mafe (49) het Dinsdagoggend vir die eerste keer in die landdroshof in Kaapstad verskyn nadat hy Sondag by die brandende gebou, glo in die besit van vermoedelike gesteelde eiendom, in hegtenis geneem is.
Mafe staan tans tereg op een aanklag van huisbraak met die doel om te steel, twee aanklagte van brandstigting, die besit van ʼn ploftoestel en die vernietiging van noodsaaklike infrastruktuur.
Hy ontken skuld en alle betrokkenheid by die voorval.
Luvuyo Godla, Mafe se regsverteenwoordiger, het buite die hof aan verslaggewers gesê deur ʼn persoon ná inhegtenisneming naby ’n misdaadtoneel te plaas, beteken nie noodwendig die persoon het die misdaad gepleeg nie.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê nog aanklagte sal waarskynlik teen Mafe gevoeg word soos die ondersoek na die brand voortduur.
Mafe verskyn weer op 11 Januarie in die hof.
Die staat het versoek dat die saak vir sewe dae uitgestel word sodat inligting wat benodig word vir die borgtogaansoek nagegaan en bevestig kan word. Die staat sal borgtog teenstaan.
Die staat benodig ook tyd om die skedule van die oortreding waarvolgens die beskuldigde aangekla sal word te bepaal. Die staat is van voorneme om Mafe van ’n skedule 5-misdryf aan te kla terwyl die verdediging volhou dat dit as ’n skedule 1-misdryf geklassifiseer moet word.
“Die uitstel sal ook die ondersoekbeampte die geleentheid bied om die misdaadtoneel te besoek om die omvang van die skade te bepaal”, sê Ntabazalila.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
30 Kommentare
Hy gaan nou weer vir waarneming gestuur word. Óf is hy net baie kwaad? Ek dog hy’s haweloos? Maar tog ń regsverteenwoordiger? Wat die belastingbetaler weer moet betaal! Absurde spul.
Hopelik is die man se bloed getoets vir doofmiddels sou hy geplant gewees het. Iets ruik na rot… Die aangeklaagde lyk dalk na moeiliheid maar ‘n mens se instink sê die storie het meer om die lyf. Hoeveel dinge gebeur toevallig saam? As iets te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik.
Wat ‘n grap. Hulle het duidelik die eerste boemelaar in die omgewing gearresteer, net om te Jan sê hulle het ‘n arrestasie gemaak. Daar sal niks van die gekkespul kom nie, behalwe dat die ou vir ‘n paar dae “famous” is en gratis verblyf en kos kry.
As daar beeldmateriaal van die daad self beskikbaar is, behoort die regte verdagte vasgetrek te word.
Die regende regime vul my met minagting!