Nóg aanklagte staar broers in gesig ná man se skietdood

Matthew en Sheldon Breet (Foto: Facebook)

Matthew en Sheldon Breet, die broers wat Maandag in die Wynberg-landdroshof in die Wes-Kaap verskyn het in verband met die moord op Brian Wainstein, word deur bykomende aanklagte in die gesig gestaar.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, sê dié ondersoekeenheid het Woensdag ook beslag gelê op patrone, handgranate, vuurwapens en militêre radio’s.

Ramovha sê opvolgondersoeke het die Valke gelei na ʼn selfstoorfasiliteit in Kraaifontein wat na bewering deur die ouer broer besit word. Hy sê die Valke het op dié vonds in die stoorfasiliteit afgekom.

“Die Valke het beslag gelê op 3 000 patrone, vier vuurwapens, vier handgranate en twee militêre radio’s. Sommige van dié items is gevind in ʼn voertuig [binne die stoorfasiliteit] wat na bewering deur Matthew bestuur is voordat hy in hegtenis geneem is,” sê Ramovha.

Wainstein is op 18 Augustus vanjaar in die vroeë oggendure in sy huis in Constantia doodgeskiet. Volgens Ramovha het Wainstein se vrou gesê dat twee mans haar man vroeër die aand by die huis besoek het. Sy het glo later wakker geword van skote wat afgevuur word en sy het besef haar man is in sy bors geskiet. Die verdagtes het drie selfone gesteel voordat hulle op die vlug geslaan het. Wainstein se vrou en kind is nie beseer nie, maar hy is op die toneel dood verklaar.

ʼn Eerste verdagte, Fabian Cupido (39), is in Oktober in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by Wainstein se moord. Dit kom nadat hy vroeër in polisieaanhouding was in verband met die beweerde aanval op Jerome “Donkie” Booysen, vermeende leier van die 26-bende en Sexy Boys, by ʼn Kaapstadse hospitaal. Booysen is in die hospitaal behandel nadat hy buite die Kaapstad Internasionale Lughawe tydens ʼn skietery gewond is.

Ramovha sê die broers sal saam met Cupido op 29 November in die landdroshof in Wynberg verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.