Nóg aanklagte teen dokter wat glo verkrag

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Jossué Trejo/pixabay)

Nóg twee aanklagte is gevoeg by die saak van die Noord-Kaapse dokter wat daarvan beskuldig word dat hy twee pasiënte, onder wie ’n tienermeisie, vroeër vanjaar in sy spreekkamer verkrag het.

Die 38-jarige Kongolese dokter het Vrydag vlugtig in die landdroshof in Kimberley verskyn waar hy van die oortreding van die Immigrasiewet sowel as die oortreding van die Wet op Gesondheidsberoepe aangekla is.

Hy het voor die verskyning reeds op aanklagte van verkragting en seksuele aanranding tereggestaan.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Noord-Kaap, sê die twee bykomende aanklagte volg nadat ’n polisie-ondersoek aan die lig gebring het dat die beskuldigde in Suid-Afrika as ’n mediese praktisyn gewerk het sonder die voorgeskrewe mediese professionele dokumente en ook nie by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGSA) geregistreer is nie.

Die dokter is boonop ’n Kongolese burger wat tans sonder die nodige immigrasiedokumente onwettig in die land is.

Hy word daarvan beskuldig dat hy op 15 Augustus vanjaar ’n 17-jarige meisie tydens ’n mediese konsultasie in sy spreekkamer verkrag het. Die dokter word ook daarvan verdink dat hy op 20 April vanjaar ’n 25-jarige pasiënt tydens ’n mediese ondersoek seksueel aangerand het.

Die saak is vandag tot Januarie uitgestel hangende ’n besluit van die direkteur van openbare vervolging.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.