Nog aanvalle by Fort Klapperkop

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Daar was die afgelope week weer verskeie aanvalle by Fort Klapperkop in Pretoria.

Talle gewelddadige aanvalle het die afgelope paar maande by Fort Klapperkop plaasgevind sowel as in die nabygeleë Groenkloof-natuurreservaat.

Volgens Robrecht Tryhou, ʼn verteenwoordiger van die inwonersvereniging, Vriende van die Groenkloof-natuurreservaat, was daar minstens vier aanvalle by Fort Klapperkop verlede week. “Twee van die aanvalle was by uitkykpunt 1 (die naaste aan die R21) en twee by uitkykpunt 5. Daar was ook voorvalle by die Fonteinesirkel.”

Tryhou het gesê die aanvallers is meestal met messe gewapen en beroof slagoffers van hul selfone en beursies. Hy het dringende ingryping van die munisipaliteit geëis. “Ons kan nie toelaat dat ons buurte, paaie, openbare ruimtes en groenareas gekaap word deur ʼn groep misdadigers nie.”

Tryhou en ander belanghebbendes het intussen vroeër vandeesmaand weer met Shaun Wilkinson, DA-raadslid, oor die situasie vergader. Volgens Wilkinson sal daar binne die volgende paar weke ʼn veiligheidsinisiatief op die been gebring word,

Daar word ook beplan om bykomende heinings, hekke en veiligheidshuisies aan te bring. ʼn Skoonmaakaksie word intussen vir Sondag beplan in die omgewing van die Fonteinesirkel.

Maroela Media het verlede jaar berig oor verskeie aanvalle by Fort Klapperkop. In Junie is ʼn fietsryer aangeval en beroof. Sy aanvallers het hom met klippe probeer slaan voordat hy daarin kon slaag om weg te kom. In Mei is ʼn vrou wreed deur vier mans aangeval toe sy fietsgery het. Hulle het haar in die bosse ingetrek en haar herhaaldelik met ʼn klip geslaan en probeer om haar te wurg. Die vrou kon daarin slaag om haar valhelm aan te hou en dit het moontlik haar lewe gered.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Ekwilibrium ·

Skokkend. Ek het dikwels die Klapperkoppad met my fiets gery, en was onlangs op die pragtige 4×4 roete in Groenkloof. Die beste is maar ‘n vuurwapen en paraatheid.

Ivan ·

Stem saam, hou maar daai lood lanseerder naby, ek sien nie ‘n ander praktiese oplossing nie.

Bekommerd ·

Moenie datum van skoonmaak operasie vooraf uitbasuin. Nog heinings, hekke en huisies. Hulle knip alles. Hoe gaan dit hul keer. Slegs effektiewe patrollie per voet kan werk, niks anders

moekie ·

waar is die DA en ander parlementleiers waarvoor ons gestem het, HULLE het mos ook n se oor alles, HUUR IN HEMELSNAAM N SEKURITEITS FIRMA MET WAGTE WAT ORAL DAAR-ROND PATROLLEER ONS BETAAL MOS INKOMSTE-BEL. GEBRUIK VAN DAAI GELD OF VAN MNR ZUMA HULLE SE GELD EN BEGIN ONS LAND VEILIGER TE MAAK ANDERS GAAN ONS BOERE-VOLK SELF BEGIN ONS LAND BEVEILIG. PRAAT EK TE VEEL NOU-NOU GAAN EK TRONK TOE, SNY UIT WAT LELIK KLINK ASB.

Magda ·

Lees weer die berig mooi dan sal jy sien wat die DA beplan.

Engelbek ·

Soos die berig duidelik aandui, is die DA reeds besig. Hoe gaan jy help, Moekie? Dis onnodig om bykans alles in hoofletters te tik.

gatiep ·

Nita ek is banger vir die soldate waarvan jy nou praat as die skelm op straat.
Maar jy is reg ons kan nie ons self toegesluit hou vir ewig nie.

Jane ·

Jammer vir my negatiwiteit, maak nie saak wat wie beplan nie, daar is geen keer aan die misdadigers in SA nie, omdat hulle niks oorkom nie. Veral nie hierdie ‘rampokkers’ nie. Hulle word mos nie kriminele genoem nie, gewoonlik net boosdoeners of kwaaddoensers of rampokkers, die feit dat hulle ‘n aanslag op ‘n lewe maak verander nie hulle titel nie .. Die toerisme gaan net nog verder duik, so vir diegene wat nie simpatie met plaaslike mense het wat daar fietsry nie, die toeriste gaan ook te bang wees om soontoe te gaan, dalk skrik iemand wakker as ‘n Toeris aangeval word — of nie!

snoefie ·

stel sekuriteitskamera’s by die wat aan n netwerk gekoppel is, by die uitkykpunte en fonteine sirkel op. by die sirkel veral is daar goeie skuiling vir misdadigers met daardie gerieflike kliphope.

Lance ·

Die polisie weet van die probleem …sal hulle proaktief wees en n lokval stel of patroleer….NEE ! Is eerder reaktief en tel net die stukke op ….PATETIES ! !

Botterblom ·

Jare, nog as kind, terug het ek my kop geskud en gesê; “hoe kan mense hulle deur misdadigers laat regeer” Mense moet vir hulsef opstaan. Nou sluip ek ook op my tone rond en sê ek hou my liewer blind…. Ons woon letterlik in ‘n pragtige land met die mooiste toeriste gebiede, soveel potensiaal dat ek wens ek kon president van so ‘n land wees… Hope hulpbronne en natuurskoon.. moontlikhede… Tog… soooo gevaarlik… Ons word beheer deur booswigte (-en hope ander name) en kan nie meer saans gaan stap en die natuurskoon geniet nie… Behalwe die vrees vir ons lewens is ons mense morsig en selfsugtig. Sit ek op die strand moet ek iemand anders se musieksmaak geniet (ugh) en in glasstukke trap. Loop ek alleen badkamer toe (wat bemors is) staan ek die gevaar om aangeval te word. Probleem is selfsug, respek, opvoeding. Hoe kan iemand wat self nie eens basiese respek het vir homself en medemens nog ‘n land, stad en mense in toom hou. Ek praat van enige persoon in gesagsposisie… Ek kan maar net bid, bid en bid…

m ·

Raak ontslae vd die straatverkopers. Wanneer hulle nie verkoop nie roof hulle. Dis dieselfde klomp wat voertuie se ruite uitslaan in die aand by Fonteine sirkel, want dit is pikdonker wanneer kinders in die aand van Tuks af kom.

Johan ·

Dankie Maroela vir die artikel. As dit nie hiervoor was nie sal ek salig onbewus van gevaar in Groenkloof fiets gery het.

Sue ·

Ek moet opkom vir die polisie. Ekke was aan die einde van die jaar n hele paar keer daar met mense want dit is nou maar n mooi uitsig en mooi sonsondergang fotos. Elke keer wat ek daar was was daar undercover polisie. Hulle het selfs met ons gesels oor die probleme daar. Jong mense met drank en dwelms is groot op daai koppie. Maar hulle is daar sonder die blou liggies.

John ·

Wat soek mense daar? Bly weg! Dit was nog altyd ‘n gevaarlike plek.

Paperdoll ·

Daar kan watse voorsorg matreels ingestel word, as die moordenaars en verkragters nie hul straf ontvang en dit uitvoer nie. sal niks help nie. Nie kameras of sekuriteits manne nie,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.