Nog ambulanse, personeel vir Gauteng

‘n Paar van die nuwe ambulanse. (Foto: Gauteng Emergency Medical Services/Facebook)

Die departement van gesondheid in Gauteng het Woensdag ʼn bykomende 220 ambulanse tot die provinsie se vloot van sowat 151 operasionele ambulanse gevoeg. Meer as 160 noodpersoneel is ook in diens geneem.

Dié stappe is bedoel om betyds op inwoners van die provinsie se noodgevalle tydens die komende feestyd te reageer.

Die nuwe vloot ambulanse kom te midde van kommer oor die Gautengse regering se besluit om die verskaffing van ambulansdienste van metro’s in dié provinsie oor te neem.

Gautengse nooddienste ontvang jaarliks byna 48 000 noodoproepe gedurende November en Desember, waarvan meeste lewensbedreigende voorvalle soos motorongelukke, aanrandings en skietwonde is.

Volgens die provinsiale gesondheidsdepartement sal die nuwe ambulanse, wat uit 200 intermediêre lewensondersteuning- en 20 intensiewesorg-ambulanse bestaan, daartoe bydra dat die onderskeie distrikte in Gauteng beter toegerus is om op noodgevalle in die provinsie te reageer.

“Dit vorm alles deel van die provinsie se pogings om beter dienslewering te verseker, operasionele doeltreffendheid te verhoog en ʼn soomlose mediese diens te verskaf,” sê Nomathemba Mokgethi, LUR vir gesondheid in Gauteng.

Inwoners en politieke partye in Gauteng was aanvanklik uiters bekommerd toe die provinsiale regering verlede jaar aangekondig het dat Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane se nooddienste nou alles onder een vaandel bedryf gaan word.

Nog personeel is ook intussen aangestel. (Foto: Gauteng Emergency Medical Services/Facebook)

Dit kom nadat Johannesburg en Ekurhuleni se tydelike bedryflisensies verval het en dié distrikte hul ambulanse aan die provinsiale regering oorhandig het. Tshwane kon egter daarin slaag om ʼn tydelike lisensie te kry. Dié lisensie verval egter vandeesweek en dit is nog nie duidelik of Tshwane van plan is om dit te laat hernu nie.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, het boonop in Augustus onthul dat net 151 van die 257 van die provinsie se ambulanse operasioneel is. Volgens die departement neem dié dienste minder as 30 minute om te reageer, maar Bloom twyfel sterk of dit inderdaad die geval is.

“Ek ontvang dikwels klagtes van ambulansdienste wat ure neem om op ʼn noodgeval te reageer.”

Hy wys ook daarop dat die wêreldstandaard vir reaksietyd van nooddienste slegs 15 minute is. Selfs al reageer Gautengse nooddienste inderdaad binne 30 minute, vat ambulanse dus steeds dubbel so lank as wat hulle behoort om te reageer.

Volgens Bloom was amper die helfte (106) van Gauteng se ambulanse boonop in Augustus buite werking.

Mokgethi is egter nou van mening dat die nuwe vloot ambulanse ʼn bewys is van die provinsie se toewyding om te verseker dat Gauteng teen sy volle kapasiteit op noodgevalle kan reageer.

“Ons het reeds ʼn werwingsproses van stapel gestuur om te verseker dat daar genoeg kapasiteit is om hierdie vloot te bestuur,” sê Mokgethi.

“Meer as 160 opgeleide nooddienspersoneel is reeds in diens geneem en sal in die twee besigste distrikte in Gauteng, naamlik Johannesburg en Ekurhuleni, ontplooi word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Agge nee ·

En wat van die wat stukkend is, ‘n goeie werktuigkundige of twee sal ook ‘n reuse verskil maak. Ek hoor dat sommiges wat ‘uit diens gestel’ is, net klein goedjies kort soos ‘n nuwe battery of nuwe hoofligte. Waarom so spog met nuwes, maar as daar ‘n veiling van ou ambulanse gehou word, sit die koper net ‘n nuwe battery in en ry met die voertuig weg.

SomeOne ·

in pretoria areas wag ons tot 3 ure vir ‘n staats ambulans, verskoning, “oh sorry, i could not find the address”

Marnelda ·

In Bronkhorstspruit is n terrein waar etlike stukkende ambulanse staan. Die terrein word kort kort ontruim om net weer later stampvol te wees. Wat gaan daar aan?

Pieter ·

Oor n maand dan staan die nuwes ook hier in bronkies hulle glo nie in onderhoud nie. Die hele anc land lyk so

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.