Nóg bedrog in Gautengse gesondheidsdepartement onthul

geld ekonomie suid-afrika

(Argieffoto)

Die Demokratiese Alliansie (DA) eis dat die hoof van die Gautengse departement van gesondheid geskors moet word nadat hy glo die besluit bekragtig het om ʼn multimiljoen rand se kontrak aan ʼn verdagte maatskappy toe te ken. Na R17,2 miljoen reeds aan die maatskappy betaal is, is daar bevind dat die kontrak onreëlmatig is en dit is gekanselleer.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die DA, het Jacob Mamabolo, die waarnemende LUR van gesondheid, in sy antwoord op skriftelike vrae wat in die Gautengse provinsiale wetgewer ter tafel gelê is, bevestig Mac Lukhele het die besluit bekragtig om ʼn R140 miljoen se kontrak aan die maatskappy Impela Alliances toe te ken. Die maatskappy is gevolglik in Maart vanjaar aangestel om ’n projekspan saam te stel om die departement se uitstaande skuld van R2 miljard aan verskaffers te bestuur.

Volgens die verklaring het Mamabolo gesê die departement gaan regsadvies inwin oor dissiplinêre stappe teen diegene wat hierdie kontrak gemagtig het en om vas te stel of daar enige finansiële boete of wetlike aanspreeklikheid daaraan verbonde is om die kontrak te kanselleer.

ʼn Bedrag van meer as R17,2 miljoen is aan Impela betaal vir fakture wat hulle in April en Mei aan die departement uitgereik het.

“Dit is ʼn totale vermorsing van geld. Hulle is betaal vir iets wat maklik intern deur die departement gedoen kon word,” sê Jack Bloom, die DA-woordvoerder oor gesondheid in Gauteng.

Volgens Bloom moet Lukhele aanspreeklik gehou word vir die miljoene wat die departement reeds moes opdok. Hy sê Lukhele moet ook die skuld dra vir die PPE-kontrakskandaal waar die departement miljarde verloor het.

“Premier David Makhura moet Lukhele skors net soos hy die LUR van gesondheid, Bandile Masuku, en die Thandi Pino, hoof van die voorsieningskanaalbestuur, geskors het,” sê Bloom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Persheks Adri ·

Magsmisbruik en korrupsie is al waaroor dit gaan!

Wanneer word kopdoek en haar kinders vervolg??? Ons wag steeds

Riana ·

Skors se agterend!!! dan sit hulle weer by die huis vir 5 jaar en salaris trek. Fire hulle….!!! seriously ek werk my dinges af en betaal bloed geld aan belasting om aan die land aan die lewe te hou en die ANC Comrades is 1 meer skelm as die ander en bly die geld steel want niks gebeur met hulle nie….. Sien KZN se Voormalige Burgemeester is as MPL ingesweer vandag… seriously is om van te huil!!!!!

Sonia ·

Mens word naar en voel lus om nooit meer nuus te lees nie – daar stoot ‘n lelike gevoel in mens sê binnenste op

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.