Nóg belastingbetalers se geld op Nkandla spandeer

Nkandla homesteadDie Inkatha Vryheidsparty (IVP) het die regering daarvan beskuldig dat nog belastingbetalers se geld spandeer is op ʼn projek wat hoofsaaklik president Jacob Zuma se privaatwoning in Nkandla, KwaZulu-Natal, sal baat.

“Die Middledrift-waterskema is Dinsdag bekend gestel,” het Blessed Gwala, leier van die IVP in KwaZulu-Natal, in ʼn verklaring gesê. “Dié waterskema is skaars twee kilometer van Zuma se privaatwoning af geleë. Die geleentheid, wat deur belastingbetalers se geld befonds is, is deur minister Edna Molewa, adjunkminister Barbara Thompson, premier Senzo Mchunu, Thandeka Mchunu die burgemeester van Uthungulu, en die burgemeesters van Umthonjaneni en Umlalazi bygewoon.

Gwala het die ANC daarvan beskuldig dat hulle dié geleentheid gebruik het as ʼn verkiesingsveldtog om die IVP te beswadder, aangesien dié party die munisipaliteit beheer waar Zuma se huis geleë is.

“Dit is duidelik dat die komende verkiesing nie vry en regverdig gaan wees nie, veral nie as ʼn mens die omvang van die misbruik van staatshulpbronne vir ANC-veltogte in ag neem nie,” het Gwala gesê.

Die aanleg en opgaardam sal wyk 14 in Nkandla bedien, waar Zuma se woning in die KwaNxamalala-omgewing geleë is. “Tien duisende ander mense in Nkandla het nog steeds nie ʼn betroubare bron van skoon water nie. Die inwoners word gedwing om van rivierwater gebruik te maak om aan hul daaglike waterbehoeftes te voorsien,” het hy bygevoeg.

Molewa het in November 2012 aangedui die waterskema bestaan uit ʼn opgaardam, pompstasie, watersuiweringsaanleg en watersuiweringswerke wat water aan die president se privaatwoning gaan verskaf.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat die hele skema goedgekeur is nadat die president in 2009 in sy amp aangestel is,” het Gwala gesê. “Hoeveel geld gaan die belastingbetaler nog moet bydra om ons president te laat leef soos wat hy dink hy op geregtig is? Ons veroordeel ten sterkste die ANC wat die openbare beursie beroof om hul eie verkiesingsveldtogte te befonds.”

Die Openbare Beskermer, Thuli Mandonsela, het bevind dat Zuma en sy gesin ruimskoots gebaat het uit veiligheidsopgraderings by die huis ter waarde van nagenoeg R250 miljoen van belastingbetalers se geld.

“Twee nuwe padnetwerke, ter waarde van R582 miljoen, is ook in KwaNxamalala,Nkandla, opgerig, hoofsaaklik danksy staatsgeld,” het Gwala bygevoeg.  “Die IVP versoek die OB om ook die kostes en tenderprosedures van die infrastruktuur rondom die president se privaatwoning te ondersoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.