Nog beurtkrag terwyl Eskom instandhouding doen

Eskom se Tutuka-kragsentrale. (Foto: Eskom)

Eskom gaan voort met sy versnelde instandhoudingsprogram, al beteken dit die kans vir beurtkrag hierdie somer is groter. Dit terwyl beurtkrag weer die naweek op kort kennisgewing ingestel is en in hierdie stadium tot minstens Woensdagoggend duur.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, sê die kragreus het sy beplande instandhoudingsprogram tot ʼn gemiddeld van 5 500 MW verhoog. Dit is in ooreenstemming met die hoeveelheid instandhoudingswerk wat tussen September verlede jaar en Maart vanjaar gedoen is, maar bykans dubbel die hoeveel instandhoudingswerk wat tussen September 2019 en April verlede jaar gedoen is.

Die kragvoorsiener het Maandag besonderhede bekend gemaak oor die jongste stand van die kragnetwerk.

Instandhoudingswerk, beurtkrag

Die vooruitsig tot Augustus volgende jaar dui daarop dat die kragstelsel onder druk gaan bly en Eskom gaan swaar moet steun op sy oopsiklus-gasturbines om beurtkrag te vermy of die omvang daarvan te verminder en die ligte aan te hou.

“Ons langtermyndoelwit is om ʼn betroubare en volhoubare opwekkingsvloot te hê wat die risiko en voorkoms van beurtkrag verminder. Eskom sal dus nie toegewings maak oor betroubaarheidsinstandhouding en opknappingswerk nie,” sê Oberholzer.

Hy sê Eskom probeer sy bes om beurtkrag te beperk, maar sê dit sal nie ten koste van doeltreffende instandhouding gedoen word nie.

“Hoewel dit moeilik op kort termyn is, moet die instandhouding gedoen word om toekomstige betroubaarheid te verseker.”

Eskom hoop om deur sy versnelde instandhoudingsprogram die voorkoms van beurtkrag te verminder.

Die kragvoorsiener sê sedert 1 April vanjaar is beurtkrag 32 dae lank in werking gestel. Dit sluit in die 11 dae van beurtkrag wat sedert September ingestel is.

Die opwekkingsafdeling is gekenmerk deur onvoldoende prestasie en kragsentrales bereik nie hulle doelwitte nie. Volgens Oberholzer word dit veroorsaak deur vinniger agteruitgang van opwekkingseenhede wat nog nie betroubaarheid-instandhoudingswerk ondergaan het nie.

Eskom het opnuut toegegee dat beurtkrag geweldige skade aan die ekonomie aanrig. Die kragbeskikbaarheidsyfer (EAF) het tot 65% afgeneem, terwyl die teiken daarvoor op 70% staan. Die hoë vlakke van beoogde instandhoudingswerk in die somermaande het hiertoe bygedra, maar daar was ook meer onbeplande onderbrekings in hierdie tydperk.

“Ons weet dat die verhoogde instandhoudingswerk die moontlikheid van beurtkrag op kort termyn verhoog, maar dit is nodig om die toekomstige vertoning van die opwekkingsvloot te verbeter,” het Oberholzer Maandag volgehou.

Hy het ook die behoefte aan ʼn bykomende 4 000 MW‑ tot 6 000 MW‑opwekkingskapasiteit benadruk om Eskom se beskikbare kapasiteit aan te vul.

Volgens Eskom het hy vanjaar 38 256 huishoudings aan die netwerk gekoppel, terwyl die teiken hiervoor 34 742 huishoudings was.

Toenemende diefstal en die doelbewuste beskadiging van kabels en substasies het egter steeds ʼn negatiewe uitwerking op bedrywighede en die betroubaarheid van die netwerk. Die diefstal van elektrisiteit hou boonop nie net operasionele en finansiële gevaar vir Eskom in nie, maar is ook gevaarlik vir die publiek.

Steenkool

Eskom het “gesonde steenkoolvlakke” by sy hele opwekkingsvloot volgehou en ʼn gemiddeld van 48 dae se voorraad word by al sy kragsentrales gehou. Dit is veel meer as die 20 dae se voorraadvlak wat voorgeskryf word.

Eskom probeer ook sy hanteringsvermoë verbeter om die gevaar van “nat steenkoolvoorvalle” in die reënseisoen te verminder. Die kragvoorsiener sê hoewel daar heelwat verbetering was, is meer beleggings nodig om die risiko verbonde daaraan selfs verder te verminder.

Die kragvoorsieners sê hy vorder ook om die koste per ton steenkool te verminder.

Koeberg

In hierdie stadium werk die Koeberg-kernkragsentrale optimaal. Eenheid twee van die kragsentrale werk al ʼn jaar lank sonder onderbreking (daar is in Oktober verlede jaar instandhoudingswerk gedoen) en die eenheid sal in Januarie afgeskakel word vir beoogde instandhoudingswerk. Dit sal volgens Eskom nog 20 jaar – ná 2024 – by die kragsentrale se rakleeftyd voeg.

Koeberg se eenheid een het wel Sondagoggend uitgeskop weens ʼn probleem met ʼn waterpomp en die aanleg is afgeskakel. Ondersoek na die stukkende waterpomp word ingestel en die eenheid sal na verwagting weer volgende week aanlyn gebring word.

Foute by kragsentrales

Werk duur intussen voort om ontwerpfoute by die Medupi-kragsentrale reg te maak en het reeds gelei tot bestendige verbetering en betroubaarheid van die opwekkingseenhede by Medupi. Dieselfde werk word by Kusile onderneem waar sommige van die grootste ontwerpdefekte op eenheid een reeds herstel is.

Een eenheid elk by Medupi en Kusile is vanjaar aanlyn gebring en het 1 594 MW tot die stelsel bygedra. Kusile is nou halfpad klaar en drie van sy ses eenhede is in bedryf.

Die suksesvolle afhandeling van Medupi het egter ʼn terugslag ondervind nadat ʼn opwekker in Augustus by eenheid vier van die aanleg ontplof het. Dit het tot ʼn verlies van 720 MW aan die stelsel gelei.

In September het nog ʼn terugslag Eskom getref toe ʼn opwekkingstransformator by Kendal se eenheid een aan die brand geraak het.

Albei eenhede is steeds van lyn af en plaas verdere druk op die kragnetwerk.

Kendal se eenheid sal na verwagting teen die einde van die jaar aanlyn gebring word, terwyl geen datum vir Medupi se eenheid vier nog bekend gemaak kon word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

James ·

Ek is tussen die boom en die bas. Gelukkig het ek gewoond geraak aan beurtkrag. Iets dieper tokkel egter aan my siel wanneer ek sien hoe Eskom faal. Laat ek verduidelik: Ek HOU nie van die Nuwe Suid Afrika nie. Ek weet egter nie, hoe om dit tot ‘n einde te bring nie. Derhalwe geniet ek die manier waarop die “Nuwe Suid Afrika” die erfenisse van die “Ou Suid Afrika” in die grond in vernietig. Hoe val regerings – sonder om ‘n skoot te skiet? Maklik – jy saboteer hulle energie en infrastruktuur. Ek hoef dit nie te doen nie. Hulle doen dit self. Landswye kragloosheid is ons voorland. En dan, gaan “Nuwe” Suid Afrika opbreek. Dus – die val van Eskom, is ‘n goeie ding. Ongerieflik – maar dit gaan dinge na ‘n punt toe dryf. Ek is gereed vir donker, en die val van “Nuwe” Suid Afrika. Ons sal opstaan, gekonsentreer in ons EIE gebied.

Di ·

Ja nee elke dag ‘n ander verskoning! Met hierdie huidige reenweer sal die volgende verskoning seker wees dat die steenkool nat geword het!

Michael ·

En dis interessant dat nat steenkool nooit ‘n probleem voor 94 was nie

Chris dupreez ·

Daar word darem nou instandhouding gedoen. Goeie ding. Kan net beter gaan vorentoe.

Janine ·

Ek wil graag weet hoekom die beurtkrag deur die nag gebeur. Hoeveel units word so gespaar? Ons het gisteraand van 8pm tot 11pm beurtkrag gehad. WEER vanoggend vanaf 2am tot 5 am. Maak Eskom tyd vir die kriminele om hul dinge te doen?

Misky ·

Ons gesin het besluit ons maak die beste van ‘n slegte saak en al moeg gemoan. Gelukkig is my man lief vir braai en ek maak tjoef-tjaf slaai en braaibroodjies. So tussendeur is dit rummy of Uno by die kamplig en ons spandeer kosbare familie tyd saam. Hopenlik kom dit tot ‘n einde en De Ruiter se beplanning is in die kol.

Shakespeare ·

Andre doen sy uiterste bes maar daar is hordes onbevoegde, korrupte kaders om van ontslae te raak en die ANC/EFF ondersteun hulle en beskerm hulle. Solank die swetterjoel sprinkane daar is sal dit net slegter gaan.

Johann ·

Bla bla bla. Die dag wat n lys bekend gemaak word van AL die onbekwame onervare KADERS wat GEFIRE word …..is die dag wat ek luister na ESKOM se “verklarings” van hoekom dit so benard gaan. Maar nou ja….derduisende ESKOMMERS wat elke maand betaal.word al doen hulle nie hul werk nie. Seker die duurste koste rekening vir die ANC om sy staat van anargie te bewerkstellig.

Keelvol ·

Eskom se syfers van beurtkrag klop nie. My krag was die jaar al oor die 40 keer af gewees. Daarvan was minder as n kwart nie deurtkrag nie. Seker dorpe kry geen beurtkrag nie. Dis n feit.

Pietertjie ·

Instandhouding, of spoeg-en-plak op verouderde toerusting?

AW ·

Laat my Dink,

Daar word gedurig instandhoudings werk gedoen !?

So, sal dit verkeerd wees om te sê dat die wat daardie Instandhoudings werk doen, maar werklik swak werk doen !

Janine ·

Ek blameer De Ruiter nie. Hy is ‘n opgeneukte ding oorhanding, moet sukkel met rassisme klagtes omdat hy van virusse ontslae raak. Hy het Eskom gekry wat reeds een groot gemors was. Ek glo hy probeer sy bes met wat hy het!

Karen ·

Paniek instandhouding ja, ñ moet, maar ek sit nie veel hoop op hulle nie…

Waarnemer ·

Ek haal aan…”Die opwekkings afdeling is gekenmerk deur onvoldoende prestasie en krag sentrales bereik nie hulle doelwitte nie.Volgens Oberholzer word dit veroorsaak deur vinnige agteruitgang van opwekkingseenhede wat nog nie betroubaarheid-instandhouding ondergaan het nie”Dit is n hele bekvol.
Wie probeer hierdie ou bluff?Die groot rede vir beurtkrag is omrede Medupi en Kusile kragsentrales na jare se agterstand nog nie ten volle in bedryf is nie.Indien die kragreus gebruik gemaak het van Suid Afrikaanse ambagsmanne wie feitlik maandeliks n opwekkings eenheid opknap,(Dit is al tweede natuur by hulle om n opwekkingseenheid boude en blaaie uitmekar te haal en na opknapping weer aanmekaar te sit),sou beide hierdie kragsentrales betyds klaar gewees het en in bedryf gestel gewees het om aan vandag se krag vereistes te voorsien,Nee,ons regering het mos baie geld om aan ander lande te gee sodat hulle kan kom droogmaak in Suid Afrika.En so kan ek aangaan…..spasie beperk my.

Taurus ·

Pretoria se misluktepaliteit dra nog verder tot die kragtekort by. Mens kan bedags in feitlik al die strate in die stad ry en straatligte sien wat brand. Die elektrisiteitskoste van straatligte word by die berekening van ons buitensporige erfbelasting bygereken. Hierdie is die reine waarheid.

MAGRIETHA ·

Ek wil net weet waar gaan al die krag vandaan gaan kom wat die politieke partye so belowe vi mense na verkiesing – Dan privatiseer eskom dis die beste en veiligste uitweg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.