Nog bewerings, maar Byleveld swyg

Piet Byleveld. Foto: Maroela Media

Piet Byleveld. Foto: Maroela Media

Meer as ʼn maand nadat Maroela Media bewerings aan die lig gebring het dat oudbrig. Piet Byleveld glo die geliefdes van verskeie moordslagoffers met duisende rande ingeloop het, het Byleveld steeds nie op die bewerings teen hom reageer nie.

Maroela Media het vroeër berig verskeie kliënte van Byleveld, wat Piet Byleveld Crime and Commercial Investigations (PBCCI) genader het om die dood van hul geliefdes te ondersoek, beweer hulle het duisende rande aan PBCCI betaal, maar geen resultate gekry nie. Hierdie kliënte beweer ook hulle het min of geen reaksie van PBCCI op hul e-posse, telefoonoproepe en SMS’e gekry nie.

Maroela Media het ook verskeie kere probeer om kommentaar by Byleveld te kry oor die bewerings, maar het geen reaksie op enige e-posse, SMS’e of oproepe gekry nie. Nadat ʼn verslaggewer Byleveld by sy huis in Johannesburg voorgekeer het, het hy gesê hy sal by monde van sy regsverteenwoordiger op Maroela Media se navrae reageer.

Scholtz Prokureurs, Byleveld se regsverteenwoordigers, was egter ook nie bereid om op die bewerings kommentaar te lewer nie. “Ons kliënt [is] nie van voorneme om homself in die pers te regverdig of enige sensasie aan die beweringe te verleen nie. Mnr. Byleveld is van opinie dat hy van blaam gesuiwer sal word sodra die beweringe in die regte forum geventileer word (sic),” het die firma in ʼn verklaring gesê.

Intussen het nog kliënte van Byleveld Maroela Media gekontak en beweer hulle het dieselfde bloutjie as talle ander geloop. Een van hierdie kliënte, wat versoek het om anoniem te bly, het aan Maroela Media vertel sy suster het in September 2015 na bewering selfmoord gepleeg. Die familie was ongemaklik met die omstandighede rondom haar dood en het PBCCI genader om die saak te ondersoek.

“Ek het Johannesburg toe gegaan vir sake en gereël om Byleveld daar te ontmoet. Hy het my by my kantoor kom sien, na my hele storie geluister en dadelik ingestem om dit te ondersoek,” het die man gesê. “By hierdie vergadering het hy my probeer beïndruk met sy jare se ondervinding en al die sake wat hy al suksesvol ondersoek en opgelos het. Dit het regtig gelyk asof hy iets met die saak sou kon uitrig,” het die man gesê.

Volgens bewyse van betalings wat aan Maroela Media verskaf is, het die man R3 500 aan Byleveld betaal vir die eerste konsultasie en later nog R14 000 as ʼn gedeelte van die eerste fase van die ondersoek.

“Ek het tydens ons eerste konsultasie gevra dat hy my net een keer ʼn maand terugvoering gee oor die ondersoek oor wat hy kon uitvind en wie hy ondervra het. Ná daardie eerste konsultasie het hulle vir my ʼn opsomming gestuur van alles waaroor ons gepraat het en wie hy gaan ondervra. Maar toe hy sy geld gekry het, het alles net doodgeloop en van daar het niks weer gebeur nie.”

Die man beweer hy het talle e-posse gestuur en oproepe gemaak oor die vordering van die saak, maar het min of geen terugvoer ontvang nie. “Hulle het my een keer gekontak om nog inligting te vra, maar dit was dit,” het hy gesê.

In Augustus vanjaar het die man ʼn e-pos aan PBCCI gestuur om te vra dat sy geld terugbetaal word, aangesien niks in byna ʼn jaar met die ondersoek uitgerig is nie. Hy sê sy e-pos het onbeantwoord gebly.

Nog ʼn vrou het aan Maroela Media beweer sy het Byleveld R20 000 betaal om haar pa se moord te ondersoek. “Nodeloos om te sê, dit is twee jaar later en na vele oproepe en navrae is ek ook die R20 000 kwyt en het ek geen antwoorde nie,” het sy gesê.

Klaarblyklik het niks ook intussen gekom van die lasteraksies wat Byleveld beweer het hy gaan instel teen mense wat die bewerings teen hom gemaak het nie. Scholtz Prokureurs het in Oktober in ʼn verklaring gesê hulle is bewus van “verskeie lasterlike bewerings” wat in Maroela Media en in Rapport gepubliseer is en dat hulle lasteraksies sal instel teen die mense wat die bewerings gemaak het.

Henriette Stopforth, Chenelle Herbst en Claudio Veljkoviċ, wat almal beweer het Byleveld het hulle ingeloop en wie se bewerings op Maroela Media publiseer is, het vandeesweek bevestig hulle het nog geen korrespondensie van Byleveld of sy regspan ontvang oor die saak of sy voorneme om lasteraksies teen hulle in te stel nie.

Scholtz Prokureurs het Maroela Media in Oktober versoek om nie weer vir Byleveld te nader vir kommentaar nie, maar direk met hulle te korrespondeer. Maroela Media het verlede week en vandeesweek e-posse aan die regsfirma gestuur om te versoek dat hulle op die bewerings teen Byleveld reageer en aandui of hulle steeds met die lasteraksies voortgaan soos hulle voorheen beweer het.

Nadat Maroela Media geen terugvoer op hierdie e-posse ontvang het nie, het ʼn verslaggewer die regsfirma Woensdag gebel. ʼn Sekretaresse het die verslaggewer meegedeel hulle sal voor die einde van die dag op die navraag reageer, maar Maroela Media het geen terugvoer ontvang nie. Nadat die verslaggewer weer Donderdag geskakel het, het die sekretaresse gesê Scholtz Prokureurs sal ʼn brief aan Maroela Media se regspan stuur daaroor. Teen die tyd van publikasie, het Maroela Media se regspan nog nie die brief ontvang nie.

Lees alle vorige berigte oor Piet Byleveld op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Vygie ·

Ek het in 2011 ook die bekende cellfoonspeurder in Bloemfontein gekry om my Cell op te spoor. Ek wag tot vandag nog vir terugvoer. Gelukkig het ek gesê sal na cell gevind is die geld vereffen. Daar ook gehoor dat talle geld vooruit betaal het en geen cell daarna nie. Ek sal maar nie by name noem nie, want al kan hulle nie my cell gevind het nie, sal ek dalkies geinkrimineer word deur name te noem. Gelukkig het ek nog die epos vakkie wat ek geskep het met eposse in. Ek het wel my telleurstelling te kenne gegee en geen terugvoer ontvang nie. Die “speurders” is net in storieboeke…

Johan ·

Dit lyk of ou Piet mooi geleer het deur die jare wat hy kriminele gevang het.

callie ·

Ou Piet was dalk gewoond hy sit daarbo en kry die eer van die manne wat regtig die werk gedoen het. Nou sit hy daarbo en kry die geld maar het dalk net vergeet daar is nie mense onder hom wat die werk doen nie. Ai die ouderdom darem.

Koos ·

Wonderwerke is nie moontlik nie, los die man uit dat hy sy werk kan doen, as die polisie nie die sake kon oplos nie, hoe moet hy dit sô vinnig regkry. Sou ook n stille trek as die foon aanhou lui.

Hendrik ·

Watter werk het hy gedoen.? Ander mense het die werk gedoen.

Punt ·

Dis juis waaroor die bohaai gaan. Die man doen nie sy werk nie

Lance ·

Gee hom tyd ja maar die probleem is mense gee geld en kry noooit terugvoer nie …hy maak sy kantore toe antwoord nie sy foon ….so ek is bevrees dis nogal skelm om die minste te se

Willie ·

Stem saam met Callie. Daar is kos al LANKAL gese dat ‘baaspeurder Byleveld’ op ander mense se rue gery het en die eer en roem vir hulle werk gevat het.

Gelukkig kan ons nou sien wie hy REGTIG is.

You can fool all the people sometimes, you can fool some people all the time, BUT you cannot fool all the people all the time.

En daar het ons dit. Brigadier Baasspeurder Byleveld is beslis nie wie ons gedink het hy is nie.

Kara ·

Lees gerus die boek oor sy lewe voordat julle hom so kritiseer. Hy het baie mense gehelp ten koste van hom en sy familie. Nie alle misdade word opgelos nie. Jou eie werk is nie altyd 100% nie. Mens doen wat jy kan. Maar as jy perfek is, “by all means” hou aan gal braak…

Sampie ·

Kara, jy leef in ‘n waas! Ek het ook ou Piet se boek gelees. Dis deurspek van “jakkals prys sy eie stert”. Hy het my allermins beindruk. Die ou is weg met baie (hartseer) mense se geld en jy beskerm hom?
Word wakker!

Magda ·

Kara ek stem 100% saam met jou. Het al met hom gedeel en wonderlike diens van hom gekry. En van wanneer af kry jy ‘n speuder om jou selfoon te soek??? Belaglik.

Cherokee ·

Nou waarom Kara, sal dit wat hy in sy boek vertel, die waarheid wees? Mense wat boeke skryf waarin hulself ophemel verskaf geen waarborg dat hulle die waarheid vertel nie.

Columbiana ·

Ag genade sus jy leef on ‘n droom wêreld jy glo seker ook on fairies

Hendrikn ·

Ek kan ok n boek skryf en die grootste pot snot kwytraak en myself die Hero maak.

Louisa Basson ·

Kara, hy het mense gehelp ten koste van sy familie se jy, maar onthou net dit was sy keuse, sy verbrokkelde huwelik is nie die mense wat hy gehelp het se skuld nie en wat hy nou doen is ‘n doelbewuste besluit om skelm te wees

cor ·

Callie dit is nie die ouderdom nie maar wel die dom geit van ouderdom wat maak dat mense sulke goed doen. Mense moet ook nie net altyd op n sogenaamde goeie naam staatmaak nie. Seker is die arme man se sap pensioen min en hy moet dit aansuiwer.

Nicky ·

Nou wanneer gaan die mense wat so geld verloor het n klag le teen die man.

Jos ·

Nicky dit is wat ek ook wil weet ! Ry polisiestasie toe en le ‘n klag dan sal daar gou reaksie wees. Hy het nou mos al genoeg tyd gehad om te reageer

Vlooi ·

Stem saam! Maak n saak sodat hulle hom kan arrester en sluit hom toe tot hy praat!

Nico ·

Stadig mense ! Piet kuier tans by Nico Nel op ‘n plaas naby Ceres. Hulle praat diep sake oor die pad vorentoe !! Strategie !!

Waghond ·

Kuier op die plaas? eks dat Piet die werk doen waarvoor hy reeds gedeeltelik of ten volle betaal is! Hy het alle “credibily” verloor deur sy geldgierigheid.

zahn ·

HHHmm, miskien probeer hy en nico kyk wie vir wie kan geld leen om uit die moeilikheid te kom…

Nel ·

Genugtig as ek as ‘n baasspeurder gereken was en ek moet vermiste selfone opspoor sou ek ook al lankal verdwyn het.

vonnie ·

Ken ook van daai Piet Promise prys sy sterte manne. Daar baie van hulle veral in die finansiele belegings bedryf. Daai “gee probleem manne sal jou sommer vinnig uitsort” passop.

Hendrik ·

Ja pasop die fiansiele raadgewers bestuur jou geld tot alles klaar is.

Tiaan ·

Hy het nog nooit n saak behoorluk ondersoek nie… kyk na sy geskiedenis in die SAP… n man met meer klagtes teen hom vir aanranding en…en…en…. Dit is hoe hulle verklarings uit verdagtes gekry het… Nooit het enige iets van die sake teen hom ooit verder gegaan nie… hy was dan die baas van die plaas… Nou kan hy nie verklarings uit verdagtes kry nie so kan dus nie sake oplos nie

Zoro ·

Dieselfde Media wat roem en glorie gee is dieselfde Media wat jou kruisig . Haal jou uit vir n toffie en wees bereid om gesiug te word

Columbiana ·

As jy in die limelight wil boer moet jy weet dit gaan jou roer. Een of ander tyd kom.die waarheid uit en as hy uitkom is dit soos ‘n Tsunami. Jy kan wegkruip in gate maar een of ander tyd sal jou vloedgolf van leuens.

Gerhard Byleveld ·

Ek ken jou nie en jy is ook nie familie van my nie maar die een ding wat ek WEET is dat indien hierdie beweringe waar is is jy ‘n man sonder integriteit en NIE die van BYLEVELD waardig nie! (waar daar soveel rook is , is daar verseker ‘n vuur), Ek en my voorgeslagte skaam my daarvoor!

sarie van heerden ·

Hoe is dit moontlik dat na al hierdie aantygings en klagtes NIKS aan Byleveld gedoen kan word nie. Dit polisie kan hom mos maklik opspoor as Maroela Media dit kon regkry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.