Nóg bewyse dat ontvoerde SA fotojoernalis leef

Shiraaz Mahomed. Foto: Facebook

Die rampverligtingsorganisasie Gift of the Givers het Maandagaand bevestiging ontvang dat Shiraaz Mahomed, die Suid-Afrikaanse fotojoernalis wat in Januarie verlede jaar in Sirië ontvoer is, steeds leef.

Imtiaz Sooliman, hoof van die organisasie, het dié bevestiging as “geloofwaardig” bestempel.

Sooliman sê die nuus is die hoogtepunt van verskeie boodskappe wat die organisasie sedert September verlede jaar ontvang, waarvan hy talle as “kansvatters” beskryf, wat voorstel dat die fotojoernalis leef.

Hy sê Gift of the Givers het op 26 Desember ʼn anonieme oproep van ʼn groep ontvang, glo van die ontvoerders, wat gesê het dat hulle “die deur na Shiraaz” is.

“Ons het gereageer deur te sê ons het dit al verskeie kere gehoor. ʼn Sekerheidstoets sal wees as die organisasie ʼn lys van tien vrae, wat in oorleg met Shiraaz se familie opgestel is, aan hom stuur. Die stem het gesê: ‘Stuur die vrae, jy sal die antwoorde binnekort hê.’”

Die organisasie het weer op 2 Januarie ʼn oproep van dieselfde groep ontvang. “[Die man het gesê] my kontak is in Sirië. Hy het Shiraaz ontmoet en die vrae is beantwoord. Ons wag vir hom om terug te keer.”

Gift of the Givers het glo Maandag net voor 20:00 die bevestiging ontvang saam met ʼn boodskap dat Shiraaz groete stuur aan sy ma, familie en die organisasie. Hy het glo aangedui dat hy “gelukkig was met die vrae” en hoop om binnekort vrygelaat te word.

Sooliman sê die organisasie het tot dusver besluit om nié Shiraaz se familie te ontstel met valse hoop weens kansvatters wat voorhou dat hulle meer oor sy ontvoering weet nie.

“Shiraaz se familie het egter Maandagaand bevestig dat al tien vrae reg beantwoord is – antwoorde wat net hy sou ken. Die familie was in ekstase. Hulle het uitgebars in trane van geluk en hoop. Daar was ʼn positiewe atmosfeer en ʼn besef dat hy leef ondanks die onvoorspelbaarheid van terreur-temperament.”

Volgens hom het dié nuus op net die regte tyd gekom. “Sy ma is op Oujaarsaand vir ʼn harttoestand in die hospitaal opgeneem. Die gewag en die onsekerheid het sy tol geëis. Nou het ons uiteindelik bewyse van lewe.”

Shiraaz is op 10 Januarie verlede jaar by die Al Hilal-hospitaal in Sirië ontvoer. Hy was ten tyde van die voorval saam met twee ander lede van die Gift of the Givers op pad na die grens in Turkye om Sirië te verlaat. Hy was op ʼn uitreik om die Siriese mense se lewe te dokumenteer en het kos en komberse in vlugtelingkampe uitgedeel. Die twee lede wat saam met hom was, is vrygelaat, maar Shiraaz is op dié dag die laaste keer gesien.

Geen eise is gestel en ʼn losprys ook nog nie vir sy vrylating gevra nie. Dit is steeds nie duidelik waarom hy ontvoer is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

?..en die man word sowaar sonder rede of bewyse aangehou. Hoe wreed tog en hy wou net geskenke uitdeel…

Kombersie ·

WHAAAAAAAA en ek glo Shiraaz wou net ‘geskenke uitdeel’? Lyk darem asof hy nie almal om die bos lei nie. Die Suid AFrikaners glo enigiets .. maar dit lyk my jy kom jou moses in ander lande tee as jy PROBEER LIEG!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.