Nóg DA-hoës sluit by Mashaba aan

Funzi Ngobeni. (Foto: Twitter

Die DA se voorsitter van die Johannesburg-streek en koukusleier van die DA in dié stad, Funzi Ngobeni, het sy DA-lidmaatskap opgegee en gevolglik uit bogenoemde leierskapsposisies in die party bedank. Hy sal hom nou aansluit by voormalige Johannesburgse burgemeester Herman Mashaba se nuwe politieke party, The People’s Dialogue.

Mashaba het boonop Maandag aangekondig dat hy nou saamwerk met voormalige DA-hoof‑ uitvoerende beampte Paul Boughey.

Ngobeni het Maandag in ʼn persverklaring gesê dit was ʼn moeilike besluit om uit die party te bedank. “Ek gaan nie uitwei oor die redes vir my bedanking uit die DA nie. Dit is voldoende om te sê dat ek my van môre af by Herman Mashaba se pogings aansluit om ʼn nuwe politieke alternatief in Suid-Afrika te bou, wat die mense van ons land eerste stel.”

Hy sê die ANC se magsoorname in Nelson Mandelabaai, Johannesburg en nou dalk ook in die Tshwane-metro is die ergste ding moontlik wat met die inwoners van dié stede kon gebeur. “Hierdie mense het gehoop dat die uitslae van die 2016‑ plaaslike verkiesing werklike verandering sou meebring. Ek is van mening dat Mashaba se party die enigste manier is waarop dié doel bewerkstellig kan word,” sê Ngubeni.

Hy het die DA en sy kollegas in die party bedank vir tien jaar se ondersteuning, mentorskap en vriendskap.

Mashaba het Ngobeni op sy beurt in die party verwelkom. Hy het Ngobeni as ʼn “sterk en vaardige leier” beskryf, wat lank daartoe verbind was om te doen wat reg is vir die mense van Johannesburg. Oor Boughey het Mashaba gesê sy strategiese ervaring met die stig van ʼn nuwe party lewer ʼn enorme bydrae tot die stigting van The People’s Dialogue.

Die DA het Maandag gesê hulle is teleurgesteld met Ngobeni se bedanking, maar wens hom alles van die beste toe met sy toekomstige ondernemings. “Ons bedank hom vir sy toewyding aan die party en sy leiding in die Johannesburg-koukus.” Die DA se adjunkstreeksvoorsitter, Tsepo Mhlongo, sal nou as tussentydse voorsitter van die DA in Johannesburg dien totdat ʼn nuwe leier verkies word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Wielspore ·

Herman Mashaba, dit is ‘n naam om te onthou, hierdie man is een van die beste leiers wat sederd 1994. Gaan luister na sy menings rakende SA en sy toekoms planne, gebruik YouTube.

Santjie ·

Dit help net mooi “sweet all” dat nuwe partye gestig word nie! Julle kon nie ‘n verskil maak met die een waar julle was nie, nou wat gaan julle nou verander!

Maria ·

As mnr Mashaba hierdie party laat groei is dit ook moontlike toekomstige alliansie vennote vir die DA, VF+ en dies meer. Ek reken hy het hope integriteit, hy het regtig sy bes gedoen

Dries ·

En so raak die opposisie al hoe meer versplinter en magteloos.

Oujongvrou ·

En ons raak al dieper in die moeilikheid. Netnou is daar nie n DA om as opposisie te staan nie, en dan is dit die rooi oorpakke wat amptelik daai plek gaan vul. En waar kry mens nou n meer haatdraende rassistiese klomp as hulle

Michael ·

Die afrikaner het nie n leier nie die VF+ is die beste wat ons voor kan stem maar Afriforum/Solidariteit is die enigste nie politieke organisasie wat iets doen en help .

Oljetter ·

Good luck & good night is al wat hiervan sal kom alhoewel dit geen verskil sal maak nie aangesien die DA reeds boedel oorgegee het en nie langer ernstig opgeneem kan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.