Nóg drama vir Boswell-sirkusbaas

Opal die orangoetang Foto: Care2-petisieblad

Opal die orangoetang Foto: Care2-petisieblad

Die Kloof en Highway-dierebeskermingsvereniging in Durban sal na verwagting ʼn saak aanhangig maak teen die dieretuin- en sirkuseienaar Brian Boswell in verband met die oortreding van die Dierebeskermingswet.

Dit volg ná ʼn aantal versoeke aan Boswell gemaak is om Opal, ʼn orangoetang, wat al 36 jaar lank glo eensaam in aanhouding gehou word by die Nasionale Dieretuin buite Pietermaritzburg, vry te laat.

Volgens die DBV word Opal in ʼn betonhok aangehou met “minimale omgewingsverryking”.

Boswell, die eienaar van Brian Boswell Circus en die Nasionale Dieretuin, word gereeld veroordeel vir die versorging van sy diere by die dieretuin en in die sirkus.

Maroela Media het vroeër berig Boswell se vrou Jane, haar dogter Georgina en David Marais, ʼn olifanthanteerder, het verlede week in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op aanklag van die oortreding van die Dierebeskermingswet. Hulle staan tereg op verskeie aanklagte nadat hulle glo tussen Desember 2012 en Januarie 2013 olifante geslaan en vasgeketting het en nie vir hulle genoeg skaduwee of water voorsien het nie.

Cheri Cooke, hoofinspekteur van die DBV wat die welstand van diere in aanhouding assesseer, het aan Africa News Agency gesê hulle wil hê Opal moet na Monkeyworld geskuif word, ʼn reddings- en rehabilitasiesentrum in Dorset in die Verenigde Koninkryk.

Cooke het gesê die DBV het Boswell al ʼn paar jaar lank versoek om Opal vry te laat om na ʼn toegewyde primaatbewaringsentrum geskuif te word.

“Ek het persoonlik al drie jaar gelede die versoek aan hom gerig, en verlede week weer, maar sy antwoord is nog steeds ‘nee’,” het sy gesê. Volgens haar het Opal geen natuurlike lewe nie.

Opal is deel van ʼn groep wat beskou word as een van die intelligentste spesies van al die primate. “Sy word elke dag uit haar slaaphok vrygelaat na haar daghok toe. Sy het ʼn klein stukkie gras met ʼn aanmekaargeflanste klimraam en sy is elke dag alleen,” het Cooke verduidelik. “En dan, wanneer mense na haar kom staar, waar sy geen hoop of privaatheid het nie, gooi sy hulle met haar uitwerpsel.”

Volgens Cooke het Opal in ʼn stadium ʼn maat en ʼn babaseuntjie gehad wat aan tuberkulose dood is. “Sy ken geselskap met haar eie soort. Sy het ʼn baba liefgehad en versorg. Nou sien sy net mense wat na haar staar, vir haar lag en hul vingers na haar toe wys.”

ʼn Hele aantal aanlynpetisies is intussen van stapel gestuur en begin momentum kry.

ANA se probeerslae om Boswell te bereik vir kommentaar was vrugteloos.

Lees alle vorige berigte oor Brian Boswell op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Boesman ·

GEEN dier hoort in ‘n sirkus of hok nie. Nie voel, aap, vis of olifant nie.

Elize ·

Hoe is dit dat hulle al vir n paar jaar lank mooi gevra word om die dier se omstandighede te verander? Jammer DBV maar julle moes al lankal ingetree het. Sirkusse moet ook deur wetgewing verbied word, dit is opsigself n plek waar diere mishandeling daagliks plaasvind tot vermaak van die publiek.

Gesiggie ·

Ek stem 100% saam jou Elize…. hierdie diere word misbruik, gemartel en dit om hul selaris te betaal? Ek stel voor dat Boswell Sirkus, maar net uit Narre moet bestaan… en dat die diere maar eerder in n veilige omgewing geplaas word, waar hul genoeg kos, water en baie liefde sal ontvang.. DBV Moet bietjie alle Sirkus eienaars besoek”’ Sal verbaas wees wat als aangaan? Aan Opal… ek hoop jy vind n goeie tuiste waar jy baie aandag en sorg sal kry..

Eliza-beth ·

Ek verpes sirkusse! Diere is veronderstel om vry in die natuur te wees want elkeen het ‘n doel en ‘n plek in die ekosisteem. Hulle is nie veronderstel om daar vir die mens se siek plesier in haglike omstandighede te wees nie – ek wens ek kan elke “mens” wat so met diere maak dieselfde behandel; sluit hom toe in ‘n klein hokkie, laat hy toertjies doen in die nag as hy moet slaap, heel moontlik kry hy slae om die toertjies aan te leer… ugg, die lys gaan aan!

sannie ·

Baie oulik om so vir die diere te baklei want hulle kan dit nie self doen nie. MAAR asseblief baklei vir ons kinders ook so daarbuite. Hoeveel kinders ly nie honger en word mishandel nie. Hoeveel van julle wat so kla oor die diere stap toe oë verby honger kinders wie swaarkry onder ouers en voogde. Hulle kan ook nie vir hulself baklei. Dit is deesdae so, algemeen dat daar net oor diereregte baklei word maar die kinders wat swaarkry word vergeet!

Dee ·

Sannie, almal van ons wil graag hê dat die kinders wat swaarkry dit makliker moet hê. Ons is bewus van wat jy praat en daar is instellings wat daarmee gemoeid is om te help. Hierdie spesifieke berig is egter om die las wat die Boswells op diere plaas uit te lig. Om die publiek bewus te maak daarvan. Ek besoek Boswell se plaas somtyds en was glad nie bewus van wat hier vertel word. Moet jy dus nie probeer om ‘n berig wat geskryf is ter wille van diere, te kaap vir ander doeleindes nie. Skryf liewer addisioneel daaroor en begin ‘n beweging ook ten gunste van kinders, of wakker dit aan.

hannes ·

Ek stem diere kry kos en water kyk na party mense se troeteldiere en dbv se oe toe vie dit. Wat van moorde en tik wat vollop is en dit mense is

Eliza-beth ·

Sannie – moenie veralgemeen nie. Persoonlik borg ek twee kinders elke maand finansieël in ‘n kinderhuis. Ek stuur ook gereeld skryfbehoeftes en toiletware aan ‘n ander kinderhuis. Ek het pas vir 3 kinders wat bitter swaarkry skoolklere gekoop. As ek hoor van swaarkry êrens en my begroting laat dit toe help ek uit. So, moenie veralgemeen nie. Ek is teen alle vorme van mishandeling en swaarkry en was nog nooit skaam om daaroor my opinie te lig nie.

Nico K ·

Ek weet nie wat is die verskil tussen wat die sirkus gedoen het en mense wat honde in klein erfies aanhou waar hulle heeldag alleen sit terwyl die mense by die werk/skool is. Of pappegaaie wat dekades lank in ‘n kou sit. (‘n Pappegaai word baie oud.) En nou wil hulle hom in ‘n dieretuin sit. Is dit beter? Ek onthou ‘n oerangoetang wat ek in ‘n dieretuin gesien het. Die arme ding het baie eensaam gelyk. Ek dink sirkusse word onnodig teen gediskrimeer.

Fubar Bundy ·

Hoeveel kinders is honger en het nie ‘n stem nie? Wat word gese oor die NDBV wat baie geld jaarliks by die perdewedrenne kry “om maar ‘n ander oog te draai?” Hoewel ek saam stem dat dit nie reg is vir Opal om so alleen te bly nie, glo ek inteendeel dat nie alle sirkusse onmenslik en mishandelaars is nie. Dis soos om te sê alle wittes is rassiste en alle swartes te lui om te werk, ons weet eenvoudig dis nie waar nie!! Laat Boswell hom toekom wat hy moet, maar moet nie alle sirkusse onder dieselfde kam skeer nie.

Michiel ·

Fubar, ek het nog nooit gehoor van ‘n sirkus waar nie slegte dinge gebeur nie, party steek dit dalk beter weg. Die enigste sirkus wat kan aangaan is Cirque de Soleil waarin mense wat self WIL toertjies doen.

Martin ·

Brian, hoekom laat gaan jy haar nie maar nie man. Dit sou tog die regte ding wees om te doen.

francois ·

Verban diere en kinders in die circus. Net mense met n goeie verstand en oor n sekere ouderdom kan besluit om in die circus te werk.

Congo ·

Plaas Brian Boswell in Opal se Hokkie…en Opal in Brian Boswell se kantoor,seker Opal het meer breins……

Muis ·

Kom ons plaas alle circus eienaars so in draad hokke en kyk hoe hulle voel om van plek tot plek gery te word en daar te staan in hitte v d dag om ander te vermaak! Dink nie hulle sal so lank uithou nie, verban die hele spul!

m ·

Dankie DBV vir die goeie werk wat julle doen. Dis ook seker nie aldag maklik nie.

Jef ·

Weg met alle sirkusse want ons leef al in n sirkus wat SA genoem word, ek lag en huil hier elke dag. Sterkte aan Opal.

Anne ·

Brian laat haar gaan !!! Dink aan Die dier en sit jou in ha skoene vir eendag…?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.