Nog drie in N3-busongeluk dood

Die ongeluk in Gauteng. (Foto: Verskaf)

Nog drie sterftes is Sondag in die busongeluk op die N3 tussen Gauteng en Mpumalanga aangemeld. Altesame nege mense het nou al in dié ongeluk omgekom.

Maroela Media het vroeër berig dat die bus vroegoggend by ʼn brug afgetuimel het. Meer as 60 insittendes is hiertydens beseer.

Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, sê benewens die sterftes en die beserings wat ander passasiers opgedoen het, is nog drie van die insittendes tans in ʼn kritieke toestand.

Hoewel die beseerdes reeds hospitaal toe geneem is, is paramedici en ander nooddienste steeds op die toneel besig om na pasiënte om te sien.

Die oorsaak van die ongeluk bly in hierdie stadium onduidelik, maar volgens Mmusi het die busbestuurder skynbaar beheer oor die bus verloor.

“Die ongeluksondersoekspanne is reeds op die toneel om hul ondersoek na die ongeluk van stapel te stuur.”

Vusi Shongwe, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het intussen sy medelye aan die oorledenes se geliefdes gestuur en hoop dat diegene wat beseer is, spoedig sal herstel.

Hy het ook sy hartseer oor die verwoesting op ons paaie uitgespreek.

“Hierdie onnodige verlies aan menselewens moet tot ʼn einde kom,” sê hy.

“Ons moet almal ons deel doen om hierdie soort noodlottige ongelukke te voorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Is die mense wat so beheer verloor oor voertuie ooit bevoeg om te mag bestuur…..wonder ek????

Swerwer ·

Daar word mos maar altyd beheer oor ‘n voertuig verloor as bevoegdheid ontbreek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.