Nog drie Intercape-busse aangeval

Intercape-busse. (Foto: Intercape/Facebook)

Drie Intercape-busse is Sondag weer in die Oos-Kaap aangeval, waartydens een passasier geskiet en gewond is.

Dit is die soveelste aanval op dié busse, ondanks herhaalde pogings in die hooggeregshof om die departement van vervoer sover te kry om Intercape-busse teen gewelddadige aanvalle te beskerm.

“Meer as 130 sake is by die polisie in die Oos-Kaap aanhangig gemaak, en steeds is daar nie ʼn  enkele inhegtenisneming nie,” sê Johann Ferreira, uitvoerende hoof van Intercape.

Die eerste voorval is Sondag omstreeks 16:00 aangemeld toe ʼn bus onderweg na Cofimvaba deur gewapende misdadigers aangeval is.

“Gelukkig is niemand in hierdie voorval beseer nie, en ’n saak is by die polisie in Cofimvaba aanhangig gemaak,” sê Ferreira.

’n Tweede bus is op dieselfde dag, net voor 22:00, op die R61 tussen Tarkastad en sowat 40 kilometer van Nxuba (voorheen Cradock) met klippe gegooi en op geskiet.

“Een van die passasiers het ʼn skietwond aan sy linkerbeen opgedoen. Die passasier is dadelik na die Cradock-polisiestasie geneem, waarna paramedici hom behandel het, voordat hy per ambulans na die Cradock provinsiale hospitaal geneem is.”

’n Kort rukkie later, omstreeks 22:15, is nog ’n bus op dieselfde roete, sowat 15 kilometer buite Cradock, met klippe bestook. Niemand is in hierdie voorval beseer nie, maar ʼn saak is by die SAPD op Cradock aanhangig gemaak.

Die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) het reeds verskeie hofbevele uitgereik wat die minister van vervoer en die LUR vir vervoer in die Oos-Kaap dwing om saam met die SAPD te werk om die veiligheid van passasiers en werknemers te verseker.

“Intercape doen ’n beroep op alle vervoerowerhede en die polisie om dringend op te tree teen hierdie wrede aanvalle op Intercape, sy personeel, en onskuldige lede van die publiek,” sê Ferreira.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.