Nog drie renosters afgemaai in nasionale park

‘n Foto wat by die park se plasing op Facebook verskyn het van een van die karkasse wat gevind is. Foto: Facebook via Pilanesberg National Park.

Drie renosters, waaronder ʼn kalfie, is in die Pilanesberg- nasionale park in Noordwes gestroop.

Die Pilanesberg- nasionale park het op sy amptelike Facebook-blad gesê die stroping het vermoedelik Sondagaand of vroeg Maandagoggend plaasgevind.

“Ons renosterbeskermingseenheid het Maandag in die vroeë oggendure verdagtes gesien wat die park verlaat het en hulle toe agternagesit,” lui die inskrywing.

Sers. Kelebogile Moleko, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die parkeenheid het die polisie ook in kennis gestel van die Mazda-voertuig waarmee die verdagtes gevlug het en die polisie het hulle agternagesit. ʼn Hoëspoed-jaagtog het ontvou.

“Die bestuurder van die Mazda het tussen Sun City en Madikwa teen ʼn boomstam gebots. Een mens (39) is in hegtenis geneem terwyl twee ander daarin kon slaag om te voet te ontsnap,” het Moleko gesê.

Volgens Moleko is ses renosterhorings, ʼn vuurwapen en ʼn byl in die motor aangetref.

Die verdagte sal na verwagting vandag in die Madikwa-landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige besit van renosterhorings sowel as die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Die polisie is steeds op die ander twee verdagtes se spoor.

Die park het in die inskrywing gesê drie karkasse is in die park aangetref ná ʼn soektog met ʼn helikopter – twee koeie en een kalfie. “Ons soektog duur voort.”

Daar is ook melding gemaak van presies hóé moeilik dit is om die diere te beskerm. “Hulle [die stropers] beweeg soos spoke in die donker.”

Die park sê daar is soveel meer wat gedoen moet word om renosters te beskerm. “Nie net deur renosterbeskermingseenhede nie, maar ook dat die regering erken ons het ʼn krisis op hande.”

In die inskrywing vra die park dat mense nie die rug sal draai op dié onskuldige diere nie.

“RIV. Jammer ons het julle gefaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

agge nee ·

Die doodstraf is al oplossing, tronke is mos n vakansie oord

Francois ·

Niemand kan dit beter opsom as die skrywer self nie….

“RUS IN VREDE, JAMMER ONS HET JULLE GEFAAL”

Paul ·

En waar de duiwel is “ons” minister van omgewingsake, minister Edna Molewa???? Kan hulle nie vir eens en vir altyd die beryf reguleer nie, van die grond af, heel ons, als, bewaring, “plase”, permitte, strawwe, de lot!

As die mense nie leeus blikjag nie, dan skiet hulle kameelperde vir hul vleis, ander weer sny die leeus se kop en pote af, nog ander stroop renosters van hul horings, olifante van hul tande. Nou wanneer stop al die goed dan?

LOSKOP ·

Die regering erken dan nie eens die erns van plaas moorde nie , wat nog van die renosters ???

Johan ·

Die regering moet erken daar is ‘n probleem met renoster stropery? Wel ek erken ek het nie die program oor wapensmokkelary van wapens (bedoel vir renosterstropery), self op Carte Blanche gekyk nie, maar het die reaksie op die program in die media gevolg. Iets lyk iewers nie reg met die regering nie? Die Suid-Afrikaanse partye/instansies betrokke (wat SANParke insluit) wou nie hul kant van die saak aan Carte Blanche stel nie. Ek wys nie vinger nie, maar hul optrede of onbereidwilligheid om hul kant van die saak te stel, laat juis meer vrae oor hierdie sensitiewe kwessie.

Tragies ·

Hier is te veel INSIDE Jobs, hier is te veel mense wat DIREK met die diere werk en mense wat selfs in die Ministerie sit wat groot geld hieruit verdien, dit sal NOOIT ophou nie soos plaasmoorde NOOIT sal ophou nie. Dit word aangevuur en aan die brand gehou deur politici en in die renosters se geval is daar GROOT geld by betrokke. Dit is so tragies dat onskuldige diere die spit moet afbyt vir ‘n horing wat NUTTELOOS is .. hulle sterf vir ‘n stuk dooie horing wat NIE die kamstige medisinale waardes het waarvoor dit in die Ooste verkoop word nie. Hierdie mense gaan nooit hulle straf kry nie. So word ma’s vermoor en klein baba renostertjies gaan later self dood van ontbering en gebrek aan voeding … hoe leef jy met jou gewete saam? Afrika .. Suid Afrika het niks van waarde meer oor nie .. die Groot 5 gaan jy net op ‘n themp en tv te siene kry . dan is alles afgemaai en vernietig agv GIERIGHEID.

Nou ja toe ·

Nou waar was die SLIMJANNE wat beweer het dit gaan OPHOU as hulle renosterjag wettig maak en die uitvoer van horings WETTIG?? WAAR is julle so called conservationists nou wat altyd hierdie wrede optrede verdedig deur ‘die geld voed weer ander diere’??? WAAR IS JULLE NOU??”??????

Griet ·

Hooggeplaasdes in Regering deel vani stropery. Volgens carte blanche se verslag selfs di Hawks.

marous ·

Kenia het die doodstraf ingestel vir wilds stropers. Hul spoke gaan in die dag ook rond dwaal

JJ ·

Jip, volgens die Carte Blanche verslag wil Parkeraad nie betrokke raak ivm onwettige wapens en reonterstropery nie. Dit sal nie ophou nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.