Nog drie vas ná groot dwelmklopjag in Somerset-Wes

Foto verskaf deur die Valke

Nog drie verdagtes is in hegtenis geneem in verband met ʼn klopjag waar daar beslag gelê is op dwelmmiddels ter waarde van R8,9 miljoen in Somerset-Wes in die Wes-Kaap.

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) se narkotikaburo het twee weke gelede beslag gelê op groot hoeveelhede tik, heroïen en Mandrax by ʼn bergingsfasiliteit. Mogamat Rafiek Hayners (24) is by die fasiliteit in hegtenis geneem. Beamptes het ook beslag gelê op ʼn ongelisensieerde vuurwapen en Hayners se voertuig.

Kapt. Philani Nkwalasi, woordvoerder van die Valke, het Woensdag in ʼn verklaring gesê nog drie persone, Russel Stanton Jonathan (53), Mark Overmeyer (51) en Zaynisa Alfoz (45) is in hegtenis geneem in verband met die klopjag.

“Jonathan is Maandag by sy huis in Hanoverpark in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid. Alfoz is verlede week Dinsdag in hegtenis geneem. Overmeyer is verlede week Woensdag met behulp van die Wes-Kaapse teen-bende-eenheid aangekeer.”

Die mans het reeds in die landdroshof in Somerset-Wes verskyn. Hulle sal na verwagting Donderdag aansoek doen om borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.