Nóg drie vas oor VBS-skandaal

Nog drie verdagtes sal Dinsdag in die hof verskyn vir hul beweerde aandeel in die sogenaamde VBS-skandaal.

Die Valke het Maandag ’n voormalige munisipale bestuurder (60) van die Wes-Rand-distriksmunisipaliteit sowel as ’n voormalige finansiële hoof (37) en ʼn voormalige bestuurder van inkomste en uitgawes (34) van dié munisipaliteit by verskeie plekke in Gauteng in hegtenis geneem.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê die inhegtenisneming hou verband met beleggings wat munisipaliteite destyds in die omstrede VBS Mutual Bank gemaak het.

Mogale sê dit blyk dat die belegging van munisipale fondse strydig met die bepalings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur was.

Dít nadat die Valke se ondersoek aan die lig gebring het dat werknemers van die VBS sowel as munisipale bestuurders en ander amptenare vergoeding ontvang het vir beleggings wat gemaak is.

Daar is gedurende die jongste inhegtenisnemings beslag gelê op IT-toerusting wat relevante dokumentasie rakende die ondersoek kan bevat.

Die drie verdagtes sal in die gespesialiseerde handelshof in Pretoria verskyn.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het al vroeër aangedui dat munisipale amptenare se koppe volgende gaan rol nadat die hoofrolspelers in die ondersoek na die plundering van die VBS aangekeer is.

Altesame 20 munisipaliteite het destyds ’n bedrag van R3,7 miljard in die VBS belê. Sowat R2,2 miljard is terugbetaal, terwyl die verlies R1,5 miljard beloop. Van die verlore fondse ten bedrae van R67 miljoen is na bewering as makelaarskommissies aan entiteite en/of individue betaal om meer deposito’s, hoofsaaklik van munisipaliteite, te lok.

Maroela Media het vroeër berig sowat R2,3 miljard is na bewering binne twee jaar uit die VBS-bank se fondse getap.

Minstens agt ander verdagtes staan reeds tereg op aanklagte wat verband hou met die grootskaalse plundery van die bank terwyl die voormalige finansiële hoof van VBS-bank, Phillip Truter, tien jaar tronkstraf opgelê is nadat hy skuldig gepleit het op aanklagte van bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kobus ·

Goed,ons lees van alaml wat vas is maar wat gaan die gevolge wees? Sal ook wil weet waaar die “groot” visse is en dan liewe volksgenote.Almal kry die armes jammer,ons val oor ons voete om te help maar die slagoffers in hierdie skandaal aanvaar dit blykbaar maar gedwee.Indien dit nou ‘n ander bank was,sou die optogte,plundering,demands ens ens al in vlamme opgegaan het.Die EFF wat midde hierdie skandaal staan,is nou stil.

Susan ·

Ja, hulle sal nie nou gaan brand stig en arms swaai en plunder nie, hulle staan kniediep in die middel van die skandaal!

Die Boerepompie ·

Lyk my hulle sal ook noeit al die skelems vang wat huĺe hande in die pot gekey het nie daar ook nog nie een in die tronk ook die nie

Pieter ·

Die land se regstelsel is een groot grap. As dit een van ons was dan was ons lankal in die tronk

Chris dupreez ·

Ek kan nie wag vir die dag wanneer die eff leiers bymekaar gemaak word nie. Dit sal n blye dag in Suid Afrika wees

Susan ·

Gaaf sal dit wees, hulle kan dan sommer ‘n sel feel met Zuma, sy geliefde seun wat nou aspirasies het om president te word, en dan hulle goeie vriende, die Guptas!

Jacobus ·

Al wat ons nou wil sien is oranje oorpakke. Al die “posturing” moet nou eind kry! Miskien as die eerste groot skaakstuk in die hof vandag val sal daar weer hoop wees.

Pietertjie ·

Ek wonder hoe vorder die ondersoeke na Ju-Ju. Hoop nie dit vat ook twintig jaar nie.

Francois ·

Waarom word die EFF nie gearisteer nie. Hulle was die groot sondebokke

Debbie ·

Wanneer gaan die valke hulle aandag vestig op malema en sy hantlanger wat ook n vinger in die pie het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.