Nóg drie vas vir Sondela-moordtog

Argieffoto: Kent Williamson

Nóg drie verdagtes is tussen Woensdag en Donderdag in hegtenis geneem in verband met die moord op 11 mense in die Sondela informele nedersetting naby Rustenburg in Noordwes.

Volgens brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, sal die drie verdagtes na verwagting Maandag in die Rustenburg-landdroshof verskyn op aanklagte van sameswering tot moord.

Dít volg ná ses verdagtes vroeër vandeesweek in hegtenis geneem is in verband met dié moordtog.

Twee van dié ses verdagtes het Donderdag in die Rustenburg-landdroshof verskyn waarna die regter beslis het dat hulle tot en met hul volgende hofverskyning op 6 Desember in aanhouding sal bly, het Mokgwabone gesê.

Drie ander verdagtes sal na verwagting vandag weer voor dieselfde hof verskyn. Die sesde verdagte in die saak is intussen vrygelaat aangesien hy nie met die voorvalle verbind kon word nie.

Die oorblywende vyf verdagtes word aangekla van ontvoering, aanranding met die doel om ernstig te beseer, moord, brandstigting en sameswering om misdaad te pleeg.

Die inhegtenisneming kom ná voorvalle van oënskynlike boendoegeweld in Sondela waartydens 11 mense vermoor en verskeie eiendomme beskadig is.

In die eerste voorval is die liggame van twee mans op 18 November gevind. Buitebande is gebruik om hulle dood te brand.

Daarna het verdere voorvalle gevolg waarna nog liggame op verskillende plekke in die nedersetting gevind is. Een van dié oorledenes is doodgesteek.

Die oggend van 26 November is die liggame van vier mans en ʼn vrou op verskillende plekke in die nedersetting aangetref.

Mokgwabone maan lede van die Sondela-gemeenskap om kalm te bly, die polisie toe te laat om die saak verder te ondersoek en enige verdagte aktiwiteite by die Boitekong-polisiestasie aan te meld. Skakel die Boitekong-polisiestasie by 014 593 6001/2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Muffin ·

11 onskullige mense net so vermoor. Doodstraf sal moet terug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.