Nog drie verdagtes in OR-Tambo-rooftog hoor oor borgtog

Argieffoto

Die drie oorblywende mans wat daarvan beskuldig word dat hulle betrokke was in ʼn gewapende rooftog by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Maart vanjaar, is Dinsdag in die Kempton Park-landdroshof op borgtog vrygelaat.

Landdros Amukelani Msineki  het gesê die enigste bewyse waarmee die staat vorendag kon kom, is erkenningsverklarings en dat dit die sterkte van die staat se saak in twyfel trek.

Die drie mans, France Manaka (26), Philokhuhle Mtanzi (30) en Simon Thokwane (33) staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Hulle het na bewering saam met drie ander beskuldigdes R20,7 miljoen gesteel terwyl hulle soos polisiebeamptes aangetrek was.

“Ek het die staat se saak oorweeg en is oortuig dat daar uitsonderlike omstandighede bestaan wat veroorsaak dat ek borgtog aan die drie kan toestaan,” het Msineki gesê.

Manaka en Mtanzi is op borgtog van R50 000 elk vrygelaat op voorwaarde dat hulle al hul reisdokumente indien en vyf keer per week by hul naaste polisiestasie aanmeld.

Thokwane is op borgtog van R100 000 vrygelaat. Sy borgtogvoorwaardes sluit in om een keer per dag van Maandag tot Vrydag en twee keer per dag op Saterdae en Sondae by die polisiestasie aan te meld. Hy moet ook al sy reisdokumente inhandig en mag Gauteng nie verlaat sonder toestemming van die ondersoekbeampte nie.

Maroela Media het vroeër berig Sibusiso Mnisi, Prince Dube en Thando Sonqishe is Maandag in die Kempton Park-landdroshof op borgtog van onderskeidelik R50 000, R150 000 en R100 000 vrygelaat.

Die saak is tot 26 Mei uitgestel vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.