Nóg druk op Zuma oor Gordhan, Jonas

Pres. Jacob Zuma tydens Donderdag se Vryheidsdagvieringe. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die Helen Suzman-stigting en die organisasie My Vote Counts het hulle Woensdag tot die konstitusionele hof gewend om die afdanking van die voormalige minister én adjunkminister van finansies, Pravin Gordhan en Mcebisi Jonas, ongeldig te verklaar.

Albei organisasies het in ʼn hofaansoek gesê pres. Jacob Zuma was “irrasioneel en onwettig” in sy optrede.

Die organisasies het verder gevra die hof moet bepaal dat Zuma en die Nasionale Vergadering (NV) nie hul wetlike verpligtinge nagekom het nie.

Hulle wil ook hê Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, moet ʼn ondersoek na die president se optrede instel en kragtens artikel 89 van die Grondwet beslis of hy uit sy amp verwyder moet word.

“Die NV en die speaker het versuim om die nodige stappe teen die president te doen ná sy optrede. Die NV het ook in die besonder misluk in sy plig om toesig te hou oor staatsinstellings en om hulle aanspreeklik te hou, soos vereis ingevolge artikel 55 (2) van die Grondwet,” lui die aansoek.

Die twee organisasies het in hul aansoek gesê die afdanking van Nhlanhla Nene as minister van finansies in 2015 en die Nkandla-sage het ’n gedragspatroon gevestig. “Daar bestaan ’n patroon van onwettige gedrag sonder enige respek vir die Grondwet, en daarom ons het besluit om die saak hof toe te neem.”

Die DA het vroeër die hooggeregshof genader om Zuma te dwing om redes vir Gordhan en Jonas se afdanking te gee.

Zuma het tot Donderdag om die dokument, wat verband hou met die skommeling van die kabinet, gereed te kry ná ʼn bevel van die hooggeregshof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mossie ·

Hoe lank gaan dit nog vat voor dat daar besef word daar kannie van zuma ontslae raak word nie

Vryheid ·

Ek wonder baie keer watter tipe mentaliteit het zuma, meeste mense dink hy’s n grap . Die wêreld lag in hul mou, niemand neem enige iets ernstig op wat hy sê of doen nie. Dit is duidelik hy lewe op Mars waar integriteit, waardes, selfrespek en eerbaarheid nie bestaan nie.

Cherokee ·

Zuma is geen grap nie. Hy is slimmer as std 2 en soort van ongenaakbaar en dikvellig want hy sal aan die stoel en inkomste vashou solank as wat hy kan.

Ramkat ·

Wanneer ek vir Namawan op TV sien skakel ek soos in dadelik die klank af.
Het absoluut geen behoefte hoegenaamd om na nog meer leuens te luister nie.

Scalla ·

Verstaan ek reg, een onbevoegde moet oor n ander onbevoegde besluit, een groot sirkus

Ugogil23 ·

Onse Prez het beslis inhuis skandes oor ander soos hy wat hy dreig om uit the blaker.

Jaco ·

Kan iemand vir my sê wat van die mosie van wantroue geraak het??? Gaan dit nog ooit gebeur? Of is dit WEER uitgestel?

Callie ·

Zuma het gewen. Hy het land nou in chaos en gaan binnekort die weermag instuur om kamtig wet en orde te herstel. Wanneer weermaglede almal inplek is gaan hy en sy nuwe vrinne van na die kabinetskommeling die aankondiging maak. Demokrasie werk nie, kyk die chaos. Nou voer ons staatsgreep uit en almal sal nou maak soos ons se. Mense watch this space. Ek het geld op

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.