Nóg een gevonnis vir moord op kaptein van Valke

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

’n 30-jarige man is Dinsdag in die Bloemfonteinse hooggeregshof gevonnis vir die moord op kapt. Qeya Tshabalala, ʼn lid van die Valke, twee jaar gelede.

Ramolete Simon Masiu se medepligtige dien reeds tronkstraf vir die moord uit.

Masiu is 25 jaar tronkstraf vir moord en ’n verdere 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede opgelê. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.

“Kapt. Tshabalala is op 24 Mei 2018 verskeie kere geskiet nadat hy gereageer het op ’n klagte in Phelindaba in Mangaung. Tshabalala was nie aan diens nie,” het kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, gesê.

Dit het tydens die verhoor aan die lig gekom dat Tshabalala deur Masiu en sy makker, Sprinkaan Maema, in ʼn lokval gelei en doodgeskiet is.

Masiu is deur DNS aan die moordtoneel verbind en is in Augustus verlede jaar in hegtenis geneem.

“Masiu was sedert 2018 op vlug nadat hy in die hospitaal opgeneem is vir ’n skietwond wat hy tydens die skietery opgedoen het.”

Maema dien reeds 33 jaar tronkstraf uit vir die moord.

Tshabalala se voertuig is na die skietery verlate naby Dewetsdorp gevind. Sy selfoon is in Maema se besit gevind.

Lt.genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris in die Vrystaat, het die ondersoekspan se goeie werk geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
fs

Die vonnis is hopeloos te kort!!! lewenslank sonder parool sou baie meer gepas gewees het!!! dit was VOORAF BEPLANDE MOORD!!!!!