Nóg een sterf ná Gugulethu-skietery

Sewe mense is in die skietery in Gugulethu dood. (Foto: ANA)

Die dodetal ná Maandag se skietery by ʼn huis in Gugulethu in die Wes-Kaap staan nou op agt nadat nog ʼn slagoffer oornag dood is, het brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, gesê.

Soos vroeër berig is sewe mense, drie vroue en vier mans, tussen 30 en 40 jaar oud, Maandagmiddag deur onbekende gewapende mans in NY 78 in Gugulethu doodgeskiet. Nog twee mense is gewond. Intussen is agste slagoffer in die Groote Schuur-hospitaal dood.

Volgens Potelwa is besonderhede oor die voorval in hierdie stadium nog vaag.

Intussen het Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, die skietery veroordeel. Hy het ʼn beroep gedoen dat die bestuurskomitee oor georganiseerde misdaad, wat polisieminister Bheki Cele op die been sou bring, gestig word en ingryp om die skietery te ondersoek.

Fritz het vroeër gesê hy het vroeër vergader met Cele, die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla John Sitole, asook die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith. By die vergadering is ooreengekom dat ʼn komitee gestig sou word weens die afpersing van talle ondernemings in die Moederstad.

“Die bestuurskomitee is egter nog nie byeengeroep nie en ek doen ʼn dringende beroep op die nasionale polisie om die bestuurskomitee byeen te roep sodat dit op verwante voorvalle kan reageer,” het Fritz gesê.

Die motief vir die skietery is nog onbekend.

Fritz het sy medelye met die oorledenes se families betuig. Hy het ook die oorlewende slagoffer ʼn spoedige herstel toegewens.

Enigiemand met meer inligting oor die voorval kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Persheks Adri ·

Wie doen sulke goed en nog so jonk? Genade terroriste rondom ons almal en Cele skitter in sy afwesigheid soos altyd pffft

Sarel ·

Lees mooi “wat Bheki Cele op die been sou bring” maar nog nie gedoen nie

Persheks Adri ·

Hy vat altyd sy Afrika tyd Sarel eish en dit kan baie lank wees pffft

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.