Nog een vas ná Lethbridge-moord

Duncan Lethbridge (Foto: Instagram)

’n Tweede verdagte in die moord op Duncan Lethbridge van St. Francisbaai in die Oos-Kaap is in hegtenis geneem.

Kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die verdagte (25) is Sondag omstreeks 03:00 by ’n huis in Port Elizabeth in hegtenis geneem.

Hy word van die moord op die 76-jarige Lethbridge verdink nadat Lethbridge, sy vrou en die egpaar se huiswerker in Augustus in hul huis in St. Francisbaai oorval, vasgebind en aangerand is.

Maroela Media het vroeër berig die 53-jarige huiswerker was die betrokke dag buite die egpaar se huis doenig toe sy deur twee gewapende mans oorval is. Die mans het haar by die huis ingedwing waarna sy en die egpaar vasgebind is.

Die egpaar is aangerand voordat die verdagtes te voet met kontant en ander waardevolle items gevlug het.

Die huiswerker kon haar sowat twee uur later loswikkel en het by die bure gaan hulp soek. Hulle het die polisie en nooddienste na die huis ontbied.

Nooddienswerkers het Lethbridge in die sitkamer aangetref, waar hy met sy gesig na onder gelê het. Sy hande was vasgebind en sy mond toegeplak. Hy is op die toneel dood verklaar.

ʼn Nadoodse ondersoek het later bevestig Lethbridge het versmoor.

Bongani Faku (35) is dae ná die voorval in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding aangesien hy sy borgtogaansoek gedurende sy eerste hofverskyning laat vaar het.

Die tweede verdagte sal na verwagting Dinsdag in die Humansdorp-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en huisroof.

Faku verskyn weer op 26 September in dié hof. Hy word ook van moord en huisroof aangekla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hartseer ·

Nog ‘n moord? ELKE dag een (waarvan ons hoor) hierdie is uiters tragies. Die doodstraf sal MOET teruggebring word. ‘n Oog vir ‘n oog! Hang hulle. versmoor hom soos wat hy met hierdie oom gedoen het. Cyil R, Julius, Zuma, BLF se ‘main man’ is seker in hulle noppies. En nee, Cyril kan en wil NIKS doen om hierdie moorde te keer nie. :( Weerlose ou mense wat absoluut NIKS kan doen teen ‘n oormag nie.

BakPlaat ·

Hoekom hoor ons nooit van die ander moorde wat die 57 per dag in SA opmaak nie….en dis elke dag 57 moorde….

20 805 moorde n jaar…
.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.