Nóg een vas oor ‘diefstal’ uit Transnet-pypleiding

Die bakkie het in ‘n sloot te lande gekom toe die verdagtes probeer wegjaag. (Foto: SA Polisie)

Nog ʼn man is betrap wat glo diesel uit Transnet se pypleiding in die omgewing van Ogies in Mpumalanga probeer steel het.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het gesê die 37-jarige man is Donderdag aangekeer.

“Transnet het glo ʼn daling in drukking in die pypleiding opgemerk en ʼn span uitgestuur wat ʼn voertuig langs die pyp opgemerk het. Dié inligting is weer aan veiligheidspersoneel deurgegee,” het Sekgotodi gesê.

“Met die veiligheidsbeamptes se aankoms het hulle ʼn dubbelkajuitbakkie gesien wat dadelik teen ʼn hoë spoed weggejaag het. Die bestuurder van die bakkie het beheer verloor en die voertuig het in ʼn sloot te lande gekom.”

Een van die verdagtes is aangekeer terwyl sy makkers laat spaander het en steeds op vrye voet is. Die man verskyn na verwagting Maandag in die Ogies-landdroshof.

Van die toerusting wat die polisie gevind het. (Foto: SA Polisie)

Dit is die tweede soortgelyke voorval binne net ʼn paar dae in dié omgewing.

Mdumiso Thuthuka (23) het Dinsdag in die landdroshof op die dorp verskyn nadat hy Saterdag vir diefstal en kwaadwillige saakbeskadiging in hegtenis geneem is.

Sekgotodi het gesê Thuthuka is aangekeer nadat Transnet-amptenare weereens ʼn daling in drukking in die pypleiding opgemerk het.

Veiligheidsbeamptes is uitgestuur en het drie mense in ʼn vragmotor langs die pypleiding aangetref. Hulle kon egter nie verduidelik waar hulle aan die diesel in die vragmotor kom nie.

Al drie is in hegtenis geneem, maar twee is deur die hof vrygelaat.

Thuthuka bly in aanhouding tot hy volgende week na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Suzette ·

Dit is nie net diefstal en kwaadwillige saakbeskadiging nie – dit is sabotasie ook. Dit raak die hele land.
Maar soos gewoonlik sal die terroriste, diewe en moordenaars nie die gepaste straf ontvang nie.

Sarel ·

Die Pyplyn is veronderstel.om 24 gemonitor te word . Dasr moet Patrollie al met die Pyplyn kangs gefoen word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.