Nog een vas vir aftreeoordmoorde

Die Stella Londt-aftreeoord in Port Elizabeth. (Foto: Facebook)

’n Sesde verdagte in die moordsaak van Agnes Elaine Burns (91) en Rosemary Langton (87) sal Donderdag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn nadat hy vroeër vandeesweek in hegtenis geneem is.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring die 31-jarige verdagte is Dinsdag in Walmer, ʼn woonbuurt in die stad, in hegtenis geneem. Hy staan tereg op twee aanklagte van moord, twee aanklagte van huisroof, twee aanklagte van ontvoering en twee aanklagte van sameswering om te roof.

Maroela Media het vroeër berig personeellede van die Stella Londt-aftreeoord in Port Elizabeth het die twee vroue op 10 Oktober omstreeks 05:45 dood aangetref in hul onderskeie kamers. Vyf verdagtes is later dié maand in hegtenis geneem in verband met die moorde waarvan een van die verdagtes, ʼn 34-jarige vrou, ʼn versorger by die aftreeoord was. Sy was aan diens tydens die moorde.

Die verdagtes het na bewering vroegoggend op 10 Oktober die perseel betree deur ʼn deur op die boonste vlak van die hoofgebou in die aftreeoord. Die deur was nie gesluit nie. Hulle het die eerste kamer betree waar hulle Burns oorval het. Sy is later op haar bed aangetref. Haar voete en hande was vasgebind en haar mond was toegestop. Haar kamer was geplunder. Langton se liggaam is in soortgelyke omstandighede gekry.

Die nadoodse ondersoek het gewys dat Burns en Langton versmoor het. Daar was ook aanduidings dat hulle gewurg is.

Die polisie glo roof was die motief vir die moord. Krugerrande, luukse horlosies, goue ringe en ʼn trouring met ʼn edelsteen asook ander juwele en ʼn selfoon is gebuit.

Volgens Naidu het vyf verdagtes reeds vroeër vandeesmaand in die hof verskyn.

Panganai Mike Mabwe (27) het skuldig gepleit op aanklagte van geldwassery en is gevonnis tot ʼn boete van R 5000 of 12 maande tronkstraf. Hy is verder tot drie jaar tronkstraf gevonnis waarvan drie jaar opgeskort is. Craig Nyasha Madiro (20) het ook skuldig gepleit op geldwassery en is tot drie jaar tronkstraf gevonnis waarvan drie jaar opgeskort is. Dié twee beskuldigdes was in besit van die gesteelde selfoon.

Nombebisi Slangveld (34), Mkhuseli Damaneti (30) en Nyasha Manyange (33) bly in aanhouding. Hulle staan tereg op twee aanklagte van moord, twee aanklagte van huisroof; twee aanklagte van ontvoering en twee aanklagte van sameswering om roof te pleeg.

Hulle sal weer op 20 Januarie in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anne ·

So sal hulle moor en opgeskorte vonnis kry. More dan moor hulle volgende slagoffer. Mooi man net in Suid-Afrika.

Db ·

Gee vir hulle poste in die parlement want dit is waar almal gaan wat ‘n rekord het. Die skuldiges wat altyd onskuldig is

Ai ·

Ai weet jy dis verskriklik. Dink net waardeer daai ou mensies moes gaan. Jy betaal ‘n lot geld en dink jou ouers word goed versorg maar dan nie. Ek kyk eerder self na my ma as sy sieklik en oud is en kry ‘n wit verpleegster soos wat ons met my pa gedoen het maar in ‘n ouetehuis sal sy nie bly nie. Baie sterkte aan die families.

Weskusnooi ·

Ai, Ek stem heeltemal saam. Mens moet self na jou ouers kyk. En hulp kry om hulle te help versorg indien jy dalk nog self werk bedags.
My ouers oorweeg nou so iemand by hulle na my Pa se beroerte. Hy het goed herstel, maar die daaglikse versorging put my Ma baie uit.
Daar is nog heelwat verpleegsters wat moontlik weens omstandighede nie meer in hospitale kan werk nie, wat ek glo, goeie versorgers is.

Ons moet self na ons ouers kyk, Versorgingsoorde is nie meer betroubaar nie!!!

Willie ·

Crazy hoe die land verander. Ek dink moorde op oumense en algemene burgers is lankal n krisis. Maar die regstelsel is tot voordeel van die skurk.

Koos ·

Willie – ek stem saam maar dis meer as net dit. Die skurk regeer die land…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.