Nog een vas vir beweerde diefstal van spoorinfrastruktuur

Sommige van die kabels waarop die polisie beslag gelê het. (Foto: SA Polisie)

Nog ʼn man is aangekeer in ʼn gesamentlike operasie tussen verskeie instellings om die diefstal van en skade aan belangrike spoor-infrastruktuur te probeer stuit.

Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het gesê die 38-jarige verdagte is Vrydag in Pretoria in hegtenis geneem in die gesamentlike operasie tussen die polisie, die Passasierspooragentskap (Prasa), Telkom en die Tshwane-metroraad.

Hy word daarvan beskuldig dat hy met kritieke infrastruktuur gepeuter het, asook vir die diefstal van koper- en sinjaalkabels  ter waarde van nagenoeg R60 000.

Die verdagte is in die Hercules-omgewing in die weste van Pretoria aangekeer, glo met die gesteelde koper- en sinjaalkabels wat aan die verskillende instellings behoort in sy besit, het Mathe gesê.

Die polisie het op die kabels beslag gelê.

Die man verskyn na verwagting Maandag in die Pretoriase landdroshof.

Die inhegtenisneming kom nadat nog drie mans die afgelope week in Mpumalanga in verband met die diefstal van treinspore in hegtenis geneem is.

(Foto: SA Polisie)

Lede van die Valke het verlede Maandag, ook in samewerking met ander agentskappe, verdagtes dopgehou wat by Kromdraai treinspore op ʼn vragmotor gelaai het. Die beamptes het op die verdagtes toegeslaan en twee mense in hegtenis geneem.

Volgens die Valke het ʼn derde verdagte in ʼn maatskappyvoertuig op die vlug geslaan, maar kort daarna teen ʼn muur gebots. Hy het ontsnap en is Saterdag by sy huis in Vosman in hegtenis geneem. Die man is glo ʼn werknemer van ʼn bekende afvalbestuur- en skrootmetaalonderneming in Mpumalanga.

Thulani Rodrigo Khumalo (33) en Dumisani David Nkosi (38), die twee verdagtes wat reeds Maandag in hegtenis geneem is, bly in aanhouding nadat hulle Vrydag in die Vosman-landdroshof verskyn het. Hulle sal na verwagting Woensdag aansoek doen om borgtog.

Die derde verdagte sal Maandag in die hof verskyn op aanklagte van die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur, diefstal en die besit van gesteelde goedere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokerboom ·

Lê asb die mense die swaarste strawwe moontlik op. Die soort misdade is SABOTASIE

Scalla ·

Dit grens aan terrorisme wat hier plaasvind, die skroothandelaars wat dit koop is net so skuldig.

Dries ·

Die skroot handelaars is die grootste skuldiges. Hulle is die mense wat die mark skep en onderhou. As die owerhede net toeslaan op al die skrotwerwe op n gereelde basis en hulle toemaak indien hulle enige koper daar kry. Dan is ons probleem opgelos

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.