Nóg EFF-LP’s in die sop

EFF-lede en ondersteuners van Mngxitama raak handgemeen verlede week in Kaapstad. Foto: @TheRealClementM op Twitter.

EFF-lede en ondersteuners van Mngxitama raak handgemeen verlede week in Kaapstad. Foto: @TheRealClementM op Twitter.

Die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het Donderdag gesê die party is besig om dissiplinêre stappe te doen teen twee van sy LP’s, Mpho Ramakatsa en Lucky Twala.

“Die EFF gaan nie enige verdere kommunikasie oor die aangeleentheid maak nie, aangesien dit ʼn interne aangeleentheid is,” het Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, in ʼn verklaring gesê. “Ons hoop die lede en die media sal hul samewerking gee.”

Daar word vermoed dat Ramakatsa en Twala verbonde is aan EFF-LP Andile Mngxitama se faksie.

Die party het Dinsdag aangekondig dat hy Mngxitama en EFF-LP Khanyisile Litchfield-Tshabalala geskors het. Mngxitama moes verlede Donderdag uit ʼn Kaapse hotel, waar hy ʼn mediakonferensie sou hou, begelei word nadat EFF-lede en sy ondersteuners handgemeen geraak het.

Gevegte het by die Cape Sun Hotel uitgebreek nadat EFF-lede geweier het om die lokaal te verlaat en gesê het hulle wil hoor wat Mngxitama te sê het. Mngxitama het vroeër ʼn kennisgewing aan die media uitgereik waarin hy gesê het hy gaan ʼn mediakonferensie hou en dat hy tydens die konferensie sal sê “hoekom sommige EFF-LP’s nie ‘pay back the money’ mag sing nie”.

Mngxitama het Dinsdag weer ʼn mediakonferensie in Johannesburg gehou. Daar was egter weer ʼn skermutseling toe ʼn handjievol EFF-lede probeer het om die ingang na die lokaal te versper, en te verhoed dat Mngxitama en sy ondersteuners toegang kry.

Twala, Ramakatsa en Litchfield-Tshabalala was saam met Mngxitama by die konferensie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.