Nóg eise dat Mahumapelo se kop moet rol

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes. Argieffoto: ANA

Die vakbondfederasie Saftu het Dinsdag gesê die ANC in Noordwes is nié in ʼn posisie om Supra Mahumapelo, Noordwes-premier, af te dank nie, omdat hulle “begunstigdes van korrupsie” is.

Puseletso Molise, die provinsiale sameroeper van Saftu in Noordwes, het gesê sommige ANC-lede is “begunstigdes van die Gupta-Supra-korrupsie” in die provinsie.

“Die inwoners van Noordwes word deur die ANC geflous. As hulle nie [Mahumapelo] verwyder nie, sal ons hulle help om hom uit sy amp te verwyder,” het hy gesê.

Hy het pres. Cyril Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy nié sy besoek aan die Verenigde Koninkryk, wat deel vorm van die presidensie se buitelandse beleggingsveldtog, kortgeknip het om Mahumapelo uit sy amp te verwyder nie, maar eerder om die uiters plofbare situasie in Mahikeng te probeer beredder.

Molise het gesê ʼn vergadering is reeds gereël waar diegene wat teen korrupsie is die moontlikhede sal bespreek om die Noordwes-premier die trekpas te gee.

Intussen het ANC-leiers in die provinsie gesê die eise dat Mahumapelo moet bedank, word aangevuur deur verkeerde inligting. Die ANC-hoës het gesê die premier se herroeping moet prestasiegebaseer wees en ondersteun word deur feitlike bewyse dat hy inderdaad korrup is soos daar beweer word.

“Soos dinge nou staan, het niemand nog met konkrete bewyse vorendag gekom rakende die bewerings van korrupsie nie. Dit is ons mening dat hierdie eise veroorsaak is deur die posisie wat die premier oor korrupsie ingeneem het en die uitsprake wat hy tydens die provinsiale rede gemaak het,” het ʼn gesamentlike verklaring van die ANC in die provinsie gelui.

Die ANC-hoës het verwys na Mahumapelo wat versoek het dat alle vorige en huidige premiers, LUR’e en munisipale bestuurders hulself beskikbaar stel wanneer wetstoepassingsagentskappe en forensiese beamptes ondersoek instel na korrupsiegevalle wat so ver as 1994 terugdateer. Mahumapelo het aangevoer dat dié ondersoeke gedoen sal word in ʼn poging om misdaad en korrupsie te beveg.

Die ANC-hoës het ook gesê hulle is gekant teen voorstelle dat die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) in Noordwes ontbind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mari ·

Die mense se stemme is goed genoeg vir die ANC maar as die mense praat dan luister die ANC nie. Lyk vir my hul gaan die hele noordwes afbrand voor enige iemand van die ANC iets daaraan doen. Nee man die klomp gedra hul soos krimenele maar wat verwag mens van hulle dan as die noordwes premier ook krimeneel is dit die voorbeeld wat die mense volg.

Johan ·

Die groot skelm gaan weg kom met dit….gaan seker weer net gesuspend word met volle betaling…

Grassie ·

Ramaphosa se lamlendigheid gaan hom duur te staan kom. Hy is weliswaar in ‘n stryd gewikkel met die Zuma-faksie in die ANC maar hy probeer ondersteuning werf deur die korrupte Zuma-dissipels te paai en te pamperlang. Dit lyk al of Magashula met gom aan Ramaphosa vasgeplak is, want hulle is altyd saam, terwyl daar in die Vrystaat in Ace se hangkas ‘n hele paar geraamtes al hoe harder begin ratel om uit te kom. As Ramaphosa van die begin af vir die mense in Noordwes gesê het hy sal dadelik werk maak daarvan om van Supra en al sy handlangers ontslae te raak en hulle met doeltreffende mense te vervang sou sy ondersteuning daar beslis gestyg het. Hy sal nog moet leer dat iemand wat in ‘n plakkerskamp krepeer en ‘n spekvet hoogwaardigheidsbekleër se kruisies op ‘n stembrief presies dieselfde tel. As hy voortgaan soos nou sal hy beslis Ramaja moet word en dolosse moet gooi om te probeer oorleef.

Manie ·

Hierdie man is soos baie grootkoppe in anc. Hulle is korrup en stel al die armes se geld. Maar dit is hoofsaaklik die oningeligte arme wat vir hulle stem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.