Nog geen antwoord oor SAL-reddingsplan

(Foto: Maroela Media)

ʼn Vergadering waar krediteure van die Suid-Afrikaanse Lugdiens sou stem oor ʼn sakereddingsplan, is Donderdag verdaag op versoek van die meerderheid van die deelnemers, veral Numsa (die National Union of Metalworkers of South Africa).

Die vergadering is tot 14 Julie uitgestel, het Louise Brugman, woordvoerder vir die sakereddingspan, gesê.

Volgens Brugman het 69% van diegene wat teenwoordig was, gestem dat dit verdaag moet word ná ʼn versoek deur Numsa, die SA Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) en die Suid-Afrikaanse Lugdiensvlieëniersvereniging (Saapa).

Numsa hou vol die plan, wat deur Leslie Matuson en Siphiwe Dongwana voorgelê is, voldoen nie aan die Maatskappyewet nie.

Matuson en Dongwana is in Desember aangestel as sakereddingspraktisyns en was onder druk om die lugdiens nie te ontbind nie, maar dit eerder in ʼn lewensvatbare onderneming te verander, ondanks die wêreldwye afname in die bedryf vanweë die Covid-19-pandemie.

Die departement van openbare ondernemings het vandeesweek deelnemers aan die vergadering gemaan om ten gunste van die plan te stem. Minstens 75% van die belanghebbendes moet ten gunste van die plan stem voor dit goedgekeur kan word.

Die departement het Donderdag gesê ʼn finale en billike vrywillige skeidingsaanbod kan direk ná die stemmery aan werkers gemaak word indien die voorgestelde sakereddingsplan goedgekeur word. Indien 75% van die krediteure nie ten gunste van die plan stem nie, sal dit tot ʼn uitgerekte en duur likwidasieproses by die staatslugdiens lei, het die departement gewaarsku.

Die departement het gesê die skeidingspakkette voldoen aan wetlike voorskrifte. Dit sluit in ʼn kennismaand se salaris en die uitbetaal van verlof. As die sakereddingspoging misluk, gaan SAL-werkers ʼn maksimum bedrag van R32 000 per werker ontvang – ás die geld daarvoor beskikbaar is. Werkers wat skeidingspakkette aanvaar kan later, by die nuwe redery, weer vir poste aansoek doen.

“Die departement glo ʼn positiewe stem om die sakereddingsproses af te handel sal die mees doeltreffende manier wees om die lugdiens se bedrywighede en skuld te herstruktureer en ʼn nuwe lewensvatbare, volhoubare, mededingende lugdiens daar te stel.”

Die departement het skerp reageer toe SA Airlink aangedui het hy gaan die plan teenstaan en die maatskappy se motiewe is bevraagteken. Die Gautengse hooggeregshof het geweier om ʼn dringende aansoek deur die maatskappy toe te staan om die vergadering te verhoed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Kom ons bespiegel ‘n nuwe naam vir die SAL. Kan ek se NVL….Neusie Verby Lugdiens. Of HGLGL…Het Gewerk Lank Gelede Lugdiens. Of NEL…Nuwe Ethiopian Lugdiens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.