Nog geen antwoorde ná oud-SA-tiener sterf

Die 18-jarige Cameila het weens vermoedelik ‘n steekwond gesterf. (Foto: Verskaf)

Die familie van Cameila Thomas, die oud-Suid-Afrikaner wat verlede week in Australië dood is, wag steeds op antwoorde van die polisie wat die voorval ondersoek.

Cameila, wat sowat drie weke gelede haar 18de verjaardag gevier het, is op 4 Augustus weens vermoedelik ʼn steekwond net onder haar hart dood. Dit is nie duidelik of iemand al in verband met haar dood in hegtenis geneem is nie.

Haar oupa en ouma, Jan (73) en Cornelia Minnaar (65), is intussen met spesiale vergunning deur Australiese owerhede, wat onlangs ʼn streng Covid-19-inperking aangekondig het, na Perth onderweg om Cameila se ma en sibbe by te staan. Weens die pandemie sal hulle egter eers vir 14 dae in kwarantyn moet bly.

Cameila se pa, wat nie sy naam genoem wil hê nie, sou aanvanklik saam met die Minnaars gevlieg het, maar moes sy vlug weens omstandighede uitstel.

Hy woon in Noordwes en het sy kinders, onder wie Cameila en ʼn 15-jarige seun, weens die pandemie bykans drie jaar laas gesien. Hy het hulle sedert hul verhuising na dié land vier jaar gelede twee keer per jaar besoek.

Cameila het ook ʼn agtjarige broer.

Volgens Liza Fitchat, Cameila se tannie, het skarefinansieringsinisiatiewe, waarvan een in Suid-Afrika en een in Australië, dit vir haar ouers en Cameila se pa moontlik gemaak om die peperduur vliegtuigkaartjies van sowat R64 000 per persoon na Australië te koop.

Maroela Media het vroeër berig dat die familie desperaat is om na hul geliefdes in Perth te reis, maar dat hulle dit weens finansiële redes nie kon doen nie.

“Ons is uiters dankbaar vir almal wat hul harte oopgemaak het om ons familie in hierdie ongelooflik moeilike tyd by te staan.”

Volgens Fitchat moet die familie nóg R96 000 vir die kwarantynkoste opdok en ʼn verdere R60 000 vir Cameila se verassing.

“ʼn Graf sou sowat R160 000 gekos het en daarom het hulle op die verassing besluit. Ons hoop dat ons die res van die geld sal kan insamel, ook om die onkostes van die gedenkdiens te dek,” sê Fitchat.

Fitchat het vroeër gesê dat Cameila se tienerbroer erg getraumatiseer is aangesien hy baie na aan sy sussie was.

“Haar ouers kry ook baie swaar. Dit is ʼn ongelooflik moeilike situasie, veral om jou kind op so ʼn manier aan die dood af te staan.”

Sy sê die familie het egter verskeie wonderwerke te midde van die hartseer tydperk beleef.

“Benewens al die mense wat finansieel bygedra het, het soveel mense uit hul pad gegaan om te verseker dat my ouers en Cameila se pa die nodige vergunning kry om na Australië te reis, asook die vinnigste vlugte.

“Ek wil spesiaal aan Vanessa Frankal van Vtravel en die prokureurs van Kotze Law in Perth dankie sê dat hulle werklik die tweede myl saam met ons geloop het.”

Volgens Fitchat is die polisie deurlopend met die familie in verbinding, maar kon nog nie verdere besonderhede oor die saak onthul nie.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn 17-jarige seun speurders van die Wes-Australiese polisie met hul ondersoek na die voorval help.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mariaan

Is die wereld darem nie vreemd nie…kyk nou hierdie tragiese gebeure en die FORTUIN wat dit kos net om n geliefde ter ruste te le…miljoene word gemors op gemors…maar die staat an nie mense in so n hartseer tyd bystaan nie…sterkte aan hierdie familie…so n mooie meisie..hartseer

Duck

Mense verhuis om na ‘n beter lewe te streef, los almal is SA en soek veilige heenkome in Australië. Nou word sy vermoor, al die duur vlugte/begrafnis/onnodige uitgawes, als verniet.
Die lewe is darm maar onvoorspelbaar

Danie

Net 17 jaar oud maar in staat om speurders te help.
My innige simpatie aan die familie en vriende.