Nog geen beslissing oor Mandela se Qunu-huis

Mandela se huis in Qunu Foto: www.timesofmalta.com

Mandela se huis in Qunu Foto: www.timesofmalta.com

Eksekuteurs van Nelson Mandela se boedel, het nog nie die oudpresident se huis in Qunu in die Oos-Kaap aan enigiemand oorgedra nie, aangesien sy voormalige vrou, Winnie Madikizela-Mandela, die eienaarskap van die eiendom in die hof betwis.

Voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke, een van die eksekuteurs, het gesê hulle wag vir die hof se beslissing voor hulle die eiendom, volgens die testament, oordra.

Mandela is op 5 Desember 2013 in die ouderdom van 95 dood ná ʼn lang siekbed.

Mandela het die huis in Qunu aan die administrasie van die Nelson Rolihlahla Mandela-familietrust gelaat, waar die huis deur sy gesin – sy vrou Graça Machel en haar twee kinders – gebruik sal word. “Die Qunu-eiendom moet deur my familie gebruik word om die eenheid van die Mandela-familie te behou,” het die staatsman in sy testament gesê.

Madikizela-Mandela, wat Mandela se tweede vrou was, is uit die testament weggelaat en het nie enigiets uit die boedel ontvang nie. Sy het gevolglik in 2014 ʼn eis by die Mthatha-hooggeregshof ingedien oor die Qunu-huis, en aangevoer Mandela het die huis aangeskaf terwyl hulle steeds getroud was. Die hof het haar aansoek met koste van die hand gewys.

Haar prokureurs het intussen aangedui dat hulle gaan appèl aanteken teen die uitspraak.

“Die oorledene se huis in Qunu, en die beweegbare bates waaronder vee en ander plaasimplemente, is uit die rekening weggelaat,” het Moseneke gesê. “Ons sal die huis hanteer sodra die dispuut tussen die eksekuteurs en mamaWinnie Madikizela-Mandela opgelos is.”

Moseneke het ontken dat daar enige stryery in die Mandela-familie is oor die boedel, wat ongeveer R22 miljoen beloop. “Ondanks spekulasie in die media, is daar geen binnegevegte nie. Die familie is verenig en het ons ondersteun.”

Hy het gesê ʼn gedeelte van die boedel word aan trusts oorgedra en sal nog jare lank na die familie omsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vra maar net ·

hoe is dit moontlik dat n persoon vir baie jare in die tronk was soveel geld en waardes kon opbou nadat hy uit die tronk vrygelaat is? Was dit nie geld wat vir die opbou van RSA bedoel was? Vra maar net.

Chris ·

Hy het baie skenkings ontvang tydens sy tydperk in die tronk. Hy het ook n groot inkomste gerky as president van ons land en ook president van die ANC.

Ander Koos ·

Blykbaar het NP regering al vir hom begin “sorg” en hy kon homself ook mos goed “gehelp” het tydens sy termyn as president. Wat maak hom anders as vandag se president? Same stock!

Oom Kalahari ·

As Nelson Mandela sou glo ou Winnie is enige iets werd uit die boedel dan sou hy dit mos so bepaal het, maar hy het haar uitgesluit met ‘n doel. So sy moet maar dit gelate aanvaar.

Gertjie ·

…en hy het die 2010 sokkerbeker in die lug gehou… moes geweet het wat aangaan…!

Boertjie ·

Dis min geld en bates as n mens dink hoe baie die huidige nr1 het, iets nie reg met so n klein boedel nie. Dis amper onmoontlik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.