Nog geen besluit oor Ferdi Barnard se parool

Ferdi Barnard. Foto: Johann van Tonder/home.intekom.com

Ferdi Barnard. Foto: Johann van Tonder/home.intekom.com

Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Vrydag aangekondig dat daar nog nie ‘n besluit geneem is oor of die apartheidsmisdadiger Ferdi Barnard op parool vrygelaat moet word nie.

Volgens die minister kon die nasionale raad vir korrektiewe dienste nie bestyds ‘n verslag oor Barnard opstel nie en sal daar eers later ‘n besluit geneem word.

Barnard is 17 jaar gelede skuldig bevind aan die moord op David Webster, ʼn anti-apartheidsaktivis. Webster, ʼn antropoloog by die Universiteit van die Witwatersrand, is in 1989 buite sy huis in Troyeville, Johannesburg doodgeskiet.

Barnard is amper ʼn dekade later aan die moord skuldig bevind. Hy is ook skuldig bevind aan poging tot moord op die aktivis Dullah Omar. Barnard is twee keer lewenslange tronkstraf asook ʼn bykomende 63 jaar tronkstraf opgelê.

Barnard was ten tye van die moord op Webster ʼn lid van die omstrede Burgerlike Samewerkingsburo (BSB). Die BSB is in 1986 deur die destydse minister van verdediging Magnus Malan op die been gebring en het ten doel gehad om die “vyand te infiltreer en te penetreer”.

Malan het in 1997 aan die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK) gesê dat die moorde op die regering se politieke opponente nooit deel gevorm het van die destydse weermag se beleid nie, en dat hy nooit politieke sluipmoorde gemagtig het nie.

Die WVK het egter bevind die BSB het in die uitvoer van sy operasies “growwe skendings van menseregte, insluitend moord, teen beide Suid-Afrikaanse en nie-Suid-Afrikaanse burgers gepleeg. ”

Regter Johan Els het in 1998 tydens Barnard se verhoor in die hooggeregshof in Pretoria bevind dat Barnard by 11 staatsgetuies bely het dat hy Webster vermoor het, sonder dat hy gedwing is om dit te doen.

Els het Barnard beskryf as ʼn man wat duidelik “te veel praat” en het gesê dit is onwaarskynlik dat hy só ʼn belydenis sou maak as dit nie waar was nie.
In ʼn artikel wat later die jaar in die Mail&Guardian gepubliseer is, het die joernalis Jacques Pauw verduidelik hoe Barnard teenoor hom bely het hy het Webster vermoor. “Toe Barnard teenoor my bely het, was hy onder die invloed van ʼn groot hoeveelheid kokaïen, maar sy spraak was kalm en sinvol.”
Ferdinand Barnard het in 1975 aan die Hoërskool Roodepoort gematrikuleer en het die volgende jaar by die polisie aangesluit. Hy was tot 1984 ʼn lid van die polisie.

Barnard het voor die WVK getuig dat hy in 1984 tot 20 jaar tronkstraf gevonnis is vir moord en ander misdrywe. Hy het glo net drie jaar van sy tronkstraf uitgedien voor hy op parool vrygelaat was. Hy is onmiddellik vir die BSB gewerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.