Nog geen besluit oor korrupsieklagte teen Zuma

Argieffoto: www.rabobank.com

Argieffoto: www.rabobank.com

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het steeds nie besluit of hy sal voortgaan met aanklagte van korrupsie teen pres. Jacob Zuma nie. Dié aanklagte is in 2014 aanhangig gemaak na aanleiding van die openbare beskermer se verdoemende Nkandla-verslag.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het gesê Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, het in ʼn antwoord op parlementêre vrae kommentaar gelewer op die stand van die saak. Die DA het Masutha uitgevra oor wie in besit is van die dossier, wie die ondersoekbeampte in die saak is en of enigiemand al in dié verband ondervra is.

“Die minister het gesê die NVG oorweeg nog die saak en geen besluit is nog geneem of enigiemand in dié verband vervolg sal word nie,” het Maimane gesê. “Dit is uiters kommerwekkend dat die NVG, ʼn onafhanklike liggaam, so sloer om ʼn besluit oor hierdie saak te neem. Ons kan nie bekostig dat hierdie saak langer uitgerek word nie.”

Die DA het in Maart 2014 strafregtelike aanklagte teen Zuma by die Nkandla-polisiestasie aanhangig gemaak kort nadat Thuli Madonsela, die openbare beskermer, ʼn verslag oor die sekuriteitsopgraderings by Zuma se private Nkandla-woning bekendgemaak het. Madonsela het bevind dat Zuma onbehoorlik bevoordeel is deur byna R250 miljoen se opgraderings aan sy huis in Nkandla.

Die opgraderings het ʼn swembad, beeskraal, hoenderhok, amfiteater en besoekersentrum ingesluit wat die departement van polisie beweer het noodsaaklike sekuriteitsmaatreëls is. Die openbare beskermer het beveel dat Zuma ʼn redelike persentasie van die geld aan die staat terugbetaal.

Die nasionale tesourie het in Junie bevind Zuma moet ʼn bedrag van R7,8 miljoen aan die staat terugbetaal. Zuma het die geld hierdie week terugbetaal deur ʼn huislening wat hy van VBS Mutual Bank bekom het.

Maimane het gesê hy het aan Zuma geskryf en verdere besonderhede versoek rakende die VBS Mutual Bank-lening, soos die leningsooreenkoms, die terugbetalings en ondersteunende dokumente. “Pres. Zuma moet uiteindelik tot die besef kom dat hy nie bo die reg verhewe is nie en dat hy rekening moet hou met die strafregtelike aanklagte wat teen hom gebring is,” het Maimane gesê.

“Ons doen ʼn beroep op die NVG om onafhanklik en sonder vrees of bevoordeling op te tree en sonder verdere vertraging ʼn besluit oor die saak te neem,” het Maimane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jan maak n plan ·

Die dag as die ANC vir Zuma laat aankla en laat toesluit vir korrupsie dan eet ek my hoed op.

Loeis ·

Zuma het die hoof van die vervolgingsgesag aangestel. Zuma wil nie natuurlik nie vervolg word nie. As die vervolgingsgesag formeel besluit om nie te vervolg nie, sal dit ‘n storm ontketen. Die maklikste is om te doen waarmee ons regering die beste is: niks. Zuma en sy vrinne hoop dat almal dan eventueel vergeet.

En vir die rekord: die EFF het ook kriminele klagte ingedien.

Kobus ·

Wat van ‘n nuwejaarsbesluit?

Party van ons wag egter nie tot dan nie, want dalk vergeet ons van die goeie voorneme, ons doen dit sommer nou, onmiddelik.

Popeye ·

Reeds gesê; die dag as hy waai as prez raak ek stormdronk. Die dag wat hy tronk toe gaan eet ek Jan se hoed vir hom op.

Manie ·

Bestaan daar ‘n moontlikheid van ‘n privaat vervolging van J.G. Zuma deur ‘n private instansie?

Zumie ·

‘n Private Vervolging is eers moontlik wanneer die Vervolgingsgesag ‘n finale besluit maak om nie te vervolg nie en ‘n sg nolle prosequi sertifikaat uitreik.

Lance ·

Die zuma is elke dag in die nuus nou …vir die verkeerde redes …skandes op skandes …hy is en bly maar n joke …maar werf darem lekker stemme vir ander partye hehe

Anoniem ·

Is dit moontlik om die NVG te verkla omdat hulle versuim om hul plig te doen?

m ·

Hierdie man sal NOOIT iets oorkom nie want hy word beskerm en wie en watter army gaan hom nou skuldig aan iets bevind???? Niemand sal hulle werk op die spel sit om dit te doen nie.

Jan ·

Net een man was nodig om die eens magtige NP tot ‘n val te bring, FW de Klerk. Jacob Zuma sal die eens magtige ANC ook tot ‘n val bring, gee hom net ‘n kans. Hoe langer JZ aan die hoof van die ANC staan, hoe nader kom hulle val.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.