Nog geen besluit oor OB nie, sê ANC-koukus

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Oupa Mokoena/African News Agency)

Die ANC parlementêre koukus het Saterdag in ʼn verklaring gesê daar is nog nie ʼn besluit geneem oor die verwydering van Busisiwe Mkhwebane as openbare beskermer nie.

Pemmy Majodina, hoofsweep van die ANC, het gesê die koukus neem kennis van die verslag deur ʼn onafhanklike paneel oor die openbare beskermer.

“Toe die Grondwet op 10 Desember 1996 aanvaar is, was daar ʼn paar sake wat verdere werk van die parlement vereis het, insluitend die volgende klousules:

  • artikel 193 van die Grondwet wat die parlement magtiging gee om hoofde van hoofstuk 9-instansies aan te wys
  • artikel 194 van die Grondwet wat die parlement magtiging gee om hoofde van hoofstuk 9-instansies te verwyder, maar vereis dat reëls van die nasionale vergadering plek gestel word wat betref verwydering van die hoof van ʼn hoofstuk 9-instansie.”

Volgens Majodina het artikel 194 dormant gelê totdat die regter, in ʼn hooggeregshofsaak teen die openbare beskermer, uitspraak gelewer het dat die nasionale vergadering nie reëls in plek het om hoofde van dié instansies te verwyder nie en die parlement opdrag gegee het om die kwessie aan te spreek.

“Die proses het in die vyfde parlement onder die reëlskomitee van die Nasionale Vergadering begin en op 28 November 2019 in die sesde parlement, is nuwe reëls gepubliseer oor die verwydering van hoofde van hoofstuk 9-instansies. Die verslag van die reëlskomitee is in die Nasionale Vergadering getabuleer en deur alle politieke partye aanvaar,” het sy bygevoeg.

Kragtens die reëls, wat artikel 194 ondersteun, waar enige politieke party ʼn mosie by die nasionale vergadering of by die speaker mag indien, word daar van die speaker vereis om die saak te oorweeg en ʼn proses te begin wat die meriete van die mosie sal bepaal.

“In 2020 is ʼn mosie deur die Demokratiese Alliansie ingedien vir die verwydering van die openbare beskermer,” het Majodina gesê. “Die reëls (artikel 129) vereis dat ʼn proses van stapel gestuur moet word om die mosie te oorweeg. Dit sluit in dat ʼn onafhanklike paneel van regters aangestel moet word wat ʼn voorlopige ondersoek sal doen en ʼn bevinding maak of daar enige prima facie-bewyse bestaan om die mosie te ondersteun. In die geval van die openbare beskermer het die onafhanklike paneel van regters voorlopig ondersoek ingestel en op 1 Maart 2021 aanbeveel dat daar wel prima facie-bewyse bestaan dat die openbare beskermer wangedrag gepleeg, onbekwaam of onbevoeg was.”

Kragtens die reëls moet die Nasionale Vergadering daarna besluit om die paneel se aanbevelings te aanvaar of te verwerp. Indien die Nasionale Vergadering instem, word die saak na ʼn spesiale ad hoc-komitee verwys vir ʼn ondersoek. “Die Nasionale Vergadering is dus besig met ʼn proses en al wat in hierdie stadium vereis word, is om te bepaal of daar met die ondersoek voortgegaan sal word of nie. Ons hanteer dus nie die meriete van die saak of iemand verwyder moet word of nie. Kragtens die manier hoe die ANC-koukus belangrike sake hanteer, het die koukus op 11 Maart 2021 ʼn omvattende gesprek gehad oor die saak en bepaal dat die proses ondersteun sal word en erken dat ons in ʼn proses is. Die koukus is nie in hierdie stadium besig met die meriete van die saak nie en vrae oor ʼn stemmery kan dus nie in hierdie stadium gevra word nie,” het sy bygevoeg.

“Die koukus het die reëls van die Nasionale Vergadering bevestig en wat die speaker kan doen en nie kan doen nie wat betref sake van hoofde van hoofstuk 9-instansies. Die koukus het bevestig dat dit slegs die hoofsweep is wat ʼn uitspraak namens die koukus kan maak oor dié saak en geen individu het magtiging om die media toe te spreek oor hierdie tipe sake nie.”

Majodina sê dit het onder die aandag van die koukus gekom dat daar ʼn groot misverstand is oor die verslag van die onafhanklike paneel van regters oor die openbare beskermer. “Die komitee oor artikel 194 sal ondersoek instel oor regverdigheid en duidelikheid en dit sal die openbare beskermer die geleentheid bied om haarself te verdedig en te reageer op bewerings in die DA se mosie. In hierdie stadium is die ANC-koukus baie duidelik: dit sal voortydig wees om te bepaal of daar ʼn stemmery sal wees vir of teen die verwydering van die openbare beskermer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dries ·

En daar sit sy weer. Sy is n kader en sal nie verwyder word nie. Die ANC wil niemand kwaad maak nie.Almal weet van almal se korrupte bedrywighede en moet planne maak om almal te beskerm om uiteindelik die mag te behou.Mag is ver bo die belange van SA gestel al vir jare

Pietertjie ·

Dis wat die ANC (‘n politieke organisasie) sê. Wat sê die Regering? Of het ons nie meer ‘n Regering nie?

Kobus ·

Ag asb.Hou tog op tyd mors op die aangeleentheid.Die sogenaamde parlementer komitee trap water want almal is versigtig vir die uitbartsing van veral die EFF.Klomp ruggraatlose amptenare.

Persheks Adri ·

Hoekom word daar dan ‘n onafhanklike komitee aangestel en bevindings gemaak? Laat sy gaan daar is mos bewyse dat sy onbevoeg en onbekwaam is gggmmmfff pffft

Pieter ·

Die hele lot van julle ANC sirkus moet bedank. Julle is een groot grap

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.