Nog geen besluit oor Old Mutual-verdeling

Old Mutual

Old Mutual

Old Mutual het Maandag gesê die maatskappy het nog nie ʼn besluit geneem oor die strategiese hersiening van sy bedrywighede ná berigte oor die naweek dat hy van voorneme is om sy multimiljard rand se onderneming in vier dele te verdeel nie.

Sky News het Saterdag berig Old Mutual is van plan om in vier maatskappy te verdeel, naamlik welvaartbestuur, batebestuur, opkomende markte en sy aandeel in Nedbank.

Old Mutual het egter Maandag in ʼn verklaring gesê hy neem kennis van die spekulasie in die media, maar dit is deel van ʼn strategiese hersiening wat hy in November aangekondig het toe die nuwe uitvoerende hoof, Bruce Hemphill, by die maatskappy aangesluit het.

“Ons bevestig dat alle opsies vir die strategiese hersiening oorweeg word, maar daar is nog nie enige besluit geneem nie,” lui die verklaring.

Die finansiëledienstemaatskappy het gesê hy sal inligting oor die hersiening aan sy beleggers bekend maak wanneer die uitslae van 2015 Vrydag aangekondig word.

Die groep het in 2014 ongeveer £319 miljard onder bestuur gehad uit sy kernbesigheid.

Old Mutual-aandele het Maandagoggend met ongeveer 10% gestyg in Londen en Johannesburg nadat berigte oor die moontlike verdeling aan die lig gekom het.

Old Mutual bied beleggings, besparing, versekering en bankdienste aan meer as 17 miljoen kliënte in Afrika, die Amerikas, Asië en Europa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.