Nog geen binnehandel by Steinhoff gevind

Argieffoto

Die Gedragsowerheid vir die Finansiëledienstesektor (FSCA) het nóg drie ondersoeke in die kleinhandelreus Steinhoff se internasionale aandele afgehandel en kon geen bewyse van binnehandel opspoor nie.

Die FSCA ondersoek Steinhoff nadat ongeveer 30,7 miljoen aandele met ʼn totale markwaarde van meer as R1,7 miljard in die week voor die ineenstorting van die maatskappy se aandeleprys in Desember 2017 verhandel is.

Dit is ook in dié tydperk toe Markus Jooste, uitvoerende hoof van Steinhoff International, bedank het waarna ʼn ondersoek na beweerde oudit-onreëlmatighede aangevra is.

“Ons het geen rede gevind om te glo dat enige van hierdie aandele teenstryding met die Wet op Finansiële Markte verhandel is nie,” het Brandon Topham, uitvoerende hoof van die ondersoekafdeling by die FSCA, gesê.

Die FSCA het sy lêers op drie rekeninge gesluit waarin meer as R418 miljoen se aandele verhandel is. Dit bring die totale aantal rekeninge wat vir binnehandel ondersoek is met geen ongunstige bevinding nie op 56 te staan.

Die FSCA het gesê dat verdere rekeninge waarin R46 miljoen se aandele verhandel is, steeds ondersoek sal word en ʼn aankondiging sal gedoen word sodra dié ondersoek afgehandel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Wat van die wenk wat Jooste aan sy vriende gegee het die week voor die inplof van Steinhoff? Dink FSCA nou regtig die ingeligte betrokkenes sou hul aandele gehou het om dalk later ‘n wins te maak – asseblief!!!

Jean ·

Nee wat Jooste was n baie glibberige klein rot..hyt oor jare ge”scheme” en ek moet toegee hyt briljant te werk gegaan.(ekt die boek gelees)Hyt vd die grootste besigheids mense n rat voor die oe gedraai en nie een het hom geruik nie.In die laaste vergadering met Wiese het hy gese hy vlieg dadelik Duitsland toe om dinge uittesorteer…meantime het hy die eintlike stigter van Steinhoff ,Bruno,se 80ste verjaardag partytjie gaan bywoon..terwyl amal geglo het hy sorteer die “misverstand” uit!
Sosiopaat!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.