Nog geen duidelikheid oor reënval vir 2016

Foto: Riaan Roux

Foto: Riaan Roux

Ten spyte daarvan dat die sterk El Niño-weerverskynsel van 2015/2016 reeds weggekwyn het, is dit nog nie duidelik of goeie reënval vir die res van die jaar verwag kan word nie.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens is die droogte, wat tans oor groot dele van Suid-Afrika ervaar word, die gevolg van ʼn herhalende reeks droogtetydperke en uitermatige warm toestande, wat kenmerkend is van El Niño. Die weerdiens meen dit sal Suid-Afrika ʼn hele rukkie neem om van die droogte te herstel.

Cobus Olivier, ʼn wetenskaplike by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het aan Maroela Media gesê dit kan jare neem vir groot waterbronne om na ʼn ernstige droogte te herstel. Hy het gesê sekere landboupraktyke sal ook meer as net een goeie reënseisoen benodig om te herstel. “Droë landbougrond mag dalk baat by goeie reënval in die lente en vroeë somer, maar dit is ook afhanklik van die grondtoestande,” het hy gesê.

Volgens ʼn verklaring van die Suid-Afrikaanse Weerdiens is ʼn matige tot swak La Niña (wat koeler weer en reënval meebring) vroeër voorspel vir 2016/17. Die tempo waarteen die see-oppervlak se temperature in die ekwatoriale oseane verander, het egter die verwagting van die La Niña baie verswak en slegs “neutrale omstandighede” word nou verwag.

“Daar is gewoonlik ʼn siklus tussen El Niño en La Niña in die Stille Oseaan,” het Olivier gesê. “Gewoonlik is daar eers ʼn oorgangsperiode, wanneer die seetemperature nie baie warmer as normaal (El Niño) of kouer as normaal is nie (La Niña). Ons verwys dan na neutrale omstandighede, wat beteken ons kan nie verwag dat hierdie stelsel (ENSO) enige groot invloed op Suid-Afrika se reënval sal hê nie.”

Olivier het vroeër aan Maroela Media verduidelik die algemene persepsie, dat El Niño outomaties deur La Niña gevolg word, is onakkuraat. Alhoewel El Niño soms deur La Niña gevolg word, is dit nie noodwendig die geval nie.

Alle hoop is egter nie verlore nie, aangesien die meeste modelle aandui meer as normale reënval kan in die somer van 2016/17 verwag word. “Die droë toestande van die afgelope paar maande is nie weens die watertemperatuur in die Stille Oseaan nie, maar tipies wat ons natuurlik in die winter ervaar,” het Olivier gesê.

Volgens die weerdiens toon die Indiese Oseaan-dipool ʼn negatiewe ontwikkeling, wat gewoonlik beteken die beweging van vog van die Indiese Oseaan na die sub-kontinent word onderdruk. “Dit is die stelsel wat ons ʼn aanduiding gee om in die lente dalk minder as die normale reënval te verwag,” het Olivier verduidelik.

“Daar is egter aanduidings dat dit in die vroeë somer (November, Desember en Januarie) meer as die normaal in die somerreënvalgebied kan reën. Ongelukkig is die onsekerheid tans baie groot en ons kan glad nie ʼn finale antwoord hieroor gee nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Milan ·

El nino. La nina en verskeie ander weerprofete. Watter vertolking ookal vir ons die waarskynlikste is, is egter nie relevant. God drie-enig slaan uiteindelik die kitaar.

Koos1 ·

AMEN.
Het God dan nie deur Elia en Josef groot droogte voorspel nie?
Dit was in Sy raadsplan om eerstens die Israeliete in Egipte te kry en daarna Sy mag deur Elia laat wys, alles om uit eindelik Jesus as Verlosser te laat gebore word!
Milan jy is 100% reg Hy slaan die kitaar en ons moet buig voor Sy wil.

John ·

Hoe kry mens duidelikheid oor reenval voor dit reen? Dis ‘n nuwe een… of verwys dit na ‘n opdrag na Bo. Maar vir die boere wat nie meer wil bid en smeek vir reen nie is daar darem nou die wonderlike gm-saad wat nie reenwater vra nie… en die ou staatmakers die versekeringsmaatjies waarop ‘n mens verseker altyd kan reken. Aai tog as die subsidie-modes tog net hierheen wil oorwaai uit Europa kan mammie daai huisie by die see wat sy so begeer….

NEL ·

Koos, ons moet een ding nie vergeet nie. Daar is baie voorspellers , maar een voorsiener. Die Here is besig om hierdie deurmekaar land van ons op sy kniee te dwing sodat die regering van die dag kan verstaan wat verkeerd gaan. Ons as volk sal moet regstaan vir groot verwagtinge wat kan oplaas vind.

Spook ·

Stem saam met almal. Daar is net Een wat dit maak reen. Gaan op jou kniee en bid vir reen

Maria van Dieweeck ·

Mooi kommentare, en ek bid vir al ons boere vir reen en vir hoop en geloof. Mag die Heilige Gees jul help en versterk. Vrede

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.