Nog geen einde in sig vir busstaking, sê Numsa

Argieffoto: Pixabay

Die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) het Vrydagoggend bevestig dat hy nie enige ooreenkoms onderteken het met enige werkgewer in die busbedryf om ʼn einde te bring aan die huidige staking nie.

Die staking, waaraan ʼn aantal ander vakbonde ook deelneem, onder andere die South African Transport and Allied Workers Union (Satawu), het Woensdag begin en het ʼn invloed op kort- en langafstandbusse.

Numsa, wat die staking lei, het die jongste aanbod van werkgewers van ʼn 9% algemene verhoging, verwerp. Die stakers het ook verskeie ander eise soos beter werkstoestande en dat oortydbetaling moet inskop voor 16 uur aan diens.

Die vakbond het Vrydag daarop gewys dat hy slegs deur die bedingingsraad onderhandel. Hy het ook daarop gewys dat dit vakbondbeleid is dat slegs die algemene sekretaris ooreenkomste namens die vakbond mag onderteken.

Die South African Federation of Trade Unions (Saftu) het Vrydag sy algehele ondersteuning aan werkers toegesê en hulle gemaan om saam te staan in hierdie “stryd vir die werkersklas”.

Saftu het gesê hy is bewus van die ongerief vir buspassasiers, waarvan meeste arm en werkersklas is, wat oor die Paasnaweek wou huis toe gaan. “Dit is ook in hul belang, omdat die kwessie nie net oor lone handel nie, maar ook oor veiligheid.”

Numsa het Vrydag gesê die vakbond sien uit na gesprekke met die minister van arbeid en werkgewers later vandag. “Ons hoop op ʼn spoedige oplossing vir die dispuut.”

Die staking sal ʼn wye verskeidenheid busdienste affekteer, onder meer MyCiTi, Putco, Buscor, Golden Arrow, Megabus, Gauteng Coaches, ReaVaya, Greyhound en Great North Transport.

Lees alle vorige berigte oor die busstaking op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willie ·

Jaaaa, almal soek meer geld, wat sekerlik reg is, maar dit sprei verder uit en talle besighede word geraak, terwyl hulle onder groot ekonomiese druk buk. Dept v arbeid probeer besighede dwing , terwyl hulle finansieel nie meer kan byhou nie. Sterkte aan alle werkgewers

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.