Nog geen einde in sig vir Gautrein-staking

Gautrein in die depot (Foto: GautengCitizen via Wikimedia Commons)

Ondanks meer as ʼn week se onderhandelinge is daar steeds geen oplossing in sig vir die loongeskil tussen die Bombela-maatskappy en Gautrein-werkers verbonde aan die United National Transport Union (Untu) nie.

Die Gautrein se dienste is sedert verlede week aansienlik beperk nadat werkers verskeie eise aan die maatskappy gestel het. Daar is vroeër berig werkers eis ʼn verhoging van hul basiese salaris, ʼn maandelikse behuisingstoelaag van R1 600, R20 000 onvoorwaardelike bonus per jaar, ʼn verhoging van die nagskofvervoersubsidie na R64 per nag en ʼn mediesefondsbydrae van 50%.

Kesagee Nayager, woordvoerder van die Gautrein, het gesê die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) se pogings om in te gryp nadat onderhandelinge ʼn dooiepunt bereik het, was tot dusver ook nog nie suksesvol nie.

“Die vakbond het weggestap van die onderhandelinge en twee verbeterde aanbiedinge van Bombela verwerp – albei hierdie aanbiedinge het voorsiening gemaak vir ʼn aansporingsbonus, waarvoor UNTU gevra het. Inteendeel, daar is nou al drie aanbiedinge gemaak wat almal ʼn aansporingsbonus insluit,” het Nayager gesê.

Bombela het Dinsdag ʼn nuwe eis van UNTU ontvang waarin ʼn salarisverhoging van 16,5% vereis word in plaas van die vorige 19,5%. Nayager het gesê die maatskappy is beskikbaar om op kort kennisgewing met die KVBA se kommissaris en UNTU te vergader om die nuwe eis te bespreek.

Volgens Nayager is die maatskappy bekommerd oor die nadelige impak van die staking op passasiers, die ekonomie in geheel, asook op werknemers wat nou inkomste verloor. Sy sê die maatskappy voel egter bemoedig deur die talle werknemers wat nie aan ʼn vakbond behoort nie se gewilligheid om terug te keer werk toe.

“Soos ons voorheen gesê het, ons het empatie met die stakende werkers wat nou in hul tweede week van staking is waartydens hulle nie betaal word nie. Met nie-vakbondwerknemers wat nou terugkeer werk toe, sal ons in ʼn posisie wees om die huidige beperkte treindiens meer uit te brei.”

Nayager het beklemtoon dat Bombela steeds toegewyd is om ʼn vriendskaplike oplossing vir die loongeskil te vind. “Ons wil ook ons stem by dié van UNTU voeg om ʼn beroep op werknemers te doen dat pogings tot sabotasie onmiddellik gestaak word.”

Sy het gesê die Gautrein het reeds hul veiligheidsmaatreëls opgeskerp om te verseker dat die veiligheid van die Gautrein se passasiers en bates nie in gedrag kom nie. “Veiligheid en sekuriteit geniet tans topprioriteit. Enige mense wat betrap word dat hulle by kriminele aktiwiteite betrokke is, sal vervolg word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

UNTU ·

Lekker staak UNTU!
Ek het plan B gemaak en moes lankal daaraan gedink het, dankie dat julle my weer alternatiewe meer effektiewe moontlikhede laat ondersoek het :)
Voorspoed, ek mis julle en julle busdrywer kollegas nie.

marous ·

Die land se einde is lankal in sig …te danke aan die wat wanregeer en hul lamleggende vlakbonde

Rooikop ·

Hou op staak en begin werk !! Daar is baie mense wat nie werk het nie, gee die werk
vir hulle………. hulle wil net hê en hê en geen behoorlike diens nie.

Kobus ·

Dit is nie so maklik om bloot ander die werk te laat doen nie. Daar is gewoonlik baie mense wat wil werk maar vir hul veiligheid vrees vanwee intimidasie.

wilma ·

Waar kry jy nog maatskappye wat bonusse, behuisingstoelae en mediese fonds-bydraes betaal? In die privaat sektor is jy gelukkig as jy verhoging kry! Aangesien mens te dankbaar is jy het nog werk, hou jy maar jou mond en probeer vorentoe beur met die bietjie wat jy maandeliks kry aangesien die meeste werkgewers deesdae van mening is dat as jy nie tevrede is met wat jy het nie, niks jou verhoed om te bedank nie.

Liberaal ·

Liberale waardes bepaal dat stakers vergoed moet word vir hulle arm verlede en nou net die beste regte mag genioet, liberaliste ag die gewone werkende mens se reg op vervoer as ondergeskik. Geniet julle luukste lewe vakbondleiers.

Nita ·

Niemand moet n sent in die land bele nie. Ons moet sekerlik die vrotste produktiwiteit he. Op enige gegewe dag is duisende mense nie by hulle werk nie weens stakings of vervoerprobleme. Dit pas die Chinese om hier te bele want hulle sien n groot toekoms vir hulle mense wat ywerig is om te werk. Sonder die alewige eise vir buitensporige verhogings, huis subsidies, bonusse en wat nog alles.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.